
Die polisie se telefoonnommers het vir die tweede keer binne ’n kort tyd verander, het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, gesê.
Die stasie kan gekontak word op die landlyn by tel. (014) 718 1188/9 of by tel. (014) 718 1190/1. Die selfoonnommers is tel. 071 690 8529 en tel. 071 656 7029.
Volgens Findlay was dit die afgelope Desember stil op die misdaadfront in Modimolle. “Hoewel daar rooftogte by sakeondernemings in Phagameng was, was daar nie ’n toename oor die feesseisoen nie. Selfs dronkbestuur en huisbrake het nie noemenswaardig toegeneem nie. Ons verwag wel dat ons vandeesweek meer huisbraakklagtes sal ontvang wanneer inwoners van vakansie af terugkeer en besef dat daar by hul wonings ingebreek is,” het hy gesê.
Hy sê die beter syfers word daaraan toegeskryf dat daar vermoedelik minder mense weg was met vakansie, meer polisiesigbaarheid en die groter hoeveelheid polisieoperasies wat uitgevoer is en ’n demper op misdadigers se planne geplaas het.