Die Bela-Bela-omgewing het gespog met ’n vakansietydperk waar geen ernstige misdaad aangemeld is nie, maar nou is die bordjies verhang nadat ’n gewapende rooftog op Maandag 13 Januarie by die Pep Cell-winkel in die Shoprite-winkelsentrum plaasgevind het.
Sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het gesê drie verdagtes het die winkel teen ongeveer 16:40 betree, waarna een ’n handwapen uitgeruk en die twee winkelassistente aangehou het. Geen kliënte was ten tyde van die rooftog in die winkel nie.
Die gewapende verdagte het die een assistent na die agterkant van die winkel gelei waar die selfoonvoorraad gestoor word. Die ander twee verdagtes het voor in die winkel wag gehou, het Maponya gesê.
Nadat twee sakke vol selfone gebuit is, is die twee kasregisters ook leeggemaak van kontant, waarna die verdagtes die winkel verlaat en verdwyn het. Dit is nog onduidelik of hulle te voet of in ’n voertuig gevlug het.
Die assistente is nie vasgemaak nie en geen skoot is afgevuur nie, het Maponya gesê.
Die polisie vermoed dat die verdagtes inligting bekom het van die voorraad wat net voor die rooftog by die winkel afgelewer is.
Die verdagtes het almal gevlegte hare (dreadlocks) gehad, vlot Sepedi gepraat, tatoeëermerke op hul velle gehad en nie klapmusse gedra nie, het Maponya gesê.
Die polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof.
- ’n Buitelandse vrou (42) is dieselfde dag ongeveer 16:30 in hegtenis geneem tydens ’n gesamentlike klopjag deur lede van die misdaadintelligensie-eenheid en die sigbare polisiëringeenheid in die Bela-Bela township. Kol. Abel Phetla, stasiebevelvoerder, het die klopjag gelei.Die vrou, oorspronklik van Lesotho, is met 150 sakkies dwelms in haar besit betrap. Die vrou het aan die polisie gesê dat sy op pad was om die vonds by ’n plaaslike dwelmhandelaar af te lewer, het Maponya gesê.
Die vrou moet nog in die Bela-Bela-landdroshof op aanklagte vir die besit van dwelms en dat sy onwettig in die land is, verskyn.