
’n Hele paar sake van bedrog is in Desember in Bela-Bela aangemeld.
Tydens een van die voorvalle het ’n verdagte op Maandag 30 Desember gepoog om brandstof by die Bosveld Diesel-vulstasie te steel.
Drummond Hammond, eienaar, het gesê iemand het dié dag gebel en 2 000-liter brandstof aangevra.
Die verdagte, wat vlot Afrikaans gepraat het, het beweer die brandstof is vir ’n kontrakteur wat op die R101-pad in die Hammanskraal-omgewing besig was met instandhoudingswerk, het Hammond gesê.
Die verdagte het beloof om die geld elektronies oor te plaas en het selfs ’n bewys van betaling per e-pos aan Hammond gestuur. Hammond het dié optrede verdag gevind aangesien die meeste padkontrakteurs toe reeds gesluit was vir die Desember-vakansie.
’n Man het later die dag met ’n Toyota-trok met twee tenks agterop by die vulstasie opgedaag.
Volgens Hammond het hy ’n e-pos ontvang met bewys van betaling vir die brandstof, maar nadat hy die oorbetaling deur die bank laat nagaan het, het die bank bevestig dat daar fout is met die besonderhede.
Die personeel van die onderneming het snuf in die neus gekry en die polisie geskakel.
“Ons het die trokdrywer, wat geen vorm van identifikasie of ’n voertuiglisensie gehad het nie, gevra om te wag totdat die oorbetaling deur die bank bevestig is. Ons het die man wat gebel het weer gekontak en hy het beloftes gemaak dat hy dadelik die fout sou regstel. Net om veilig te speel, het ons die trokbestuurder se sleutels gevat,” het Hammond gesê.
“Ek was skaars terug in die kantoor toe ek hoor hoe ’n trok wegjaag. Die bestuurder het sy trok aan die gang gekry deur drade te koppel en weggejaag terwyl ek die sleutels nog in my hand gehad het.”
Die personeel het die man agterna gesit en tot in die township agtervolg waar hulle die trok verlate in Selamolelastraat gevind het. Die polisie is weer gekontak en by hul aankoms was die bestuurder skoonveld.
Die trok is deur die polisie geskut en ’n saak van bedrog word ondersoek.
Hammond sê hierdie is dieselfde modus operandi as dié van die sindikaat wat vulstasies regoor die land reeds geruime tyd teiken.
Sy raad is om nie haastig te wees met transaksies nie en om elke internetbetaling eers met die bank uit te klaar.
- Daar is ook twee ander bedrogvoorvalle in Desember aangemeld waar mense uit hul eiendom of geld gekul is. Die sake hou verband met die aankoop en verkoop van voertuie.Volgens kapt. Annemarie Smith, speurtakhoof, het ’n plaaslike koper onlangs ná onderhandelinge derduisende rande na ’n rekening oorgeplaas om ’n voertuig te koop wat op ’n webtuiste geadverteer is. Daar is aan hom beloof dat die voertuig afgelewer sou word, maar dit blyk hy is sy geld én voertuig kwyt.In nog ’n saak is ’n plaaslike voertuigeienaar gekontak deur iemand wat sy voertuig wou koop.
’n Verdagte het die verkoper ontmoet en die voertuig nagegaan. Die koper het beloftes gemaak om die geld oor te betaal, maar die eienaar het steeds geen inbetaling ontvang nie en is ook sy voertuig kwyt, het Smith gesê.
Die polisie waarsku mense om nie vir hierdie slenters te val nie.