Die twee afgetrede veeartse is op Vrydagoggend 15 Junie 2018 deur vier mans oorval toe hulle vroegoggend voer vir hul diere uitgesit het. Hulle plaas is tussen Modimolle en Mookgophong geleë.
Lesley (toe 63) was in ’n kritieke toestand nadat sy in die maag gewond is en is per helikopter hospitaal toe geneem. Haar man en ’n werker wat by hulle was, Abram Khethisa, was ongedeerd. ’n Grootskeepse soektog het na die aanval gevolg.
Een van die Van Niekerks se getroue waghonde is ook deur die aanvallers doodgeskiet.
Die aanvallers het in die rigting van Crecy met die egpaar se Toyota-bakkie gevlug met geld en wapens wat gebuit is.
Die Heritage Protection Group (HPG), in samewerking met die Modimolle-speurtak, het egter die afgelope week inligting opgevolg en Dhumisani Manziyo is op Maandag 13 Januarie om 23:00 by ’n huis in Mookgophong aangekeer.
Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, word hy deur DNA-materiaal wat op die toneel gevind is met die misdaad verbind. AO Ross Rossouw het hom in hegtenis geneem.
Manziyo, ’n Zimbabwiese burger, sou op Woensdag 15 Januarie, in die hof op Modimolle verskyn.