Drie Pep-klerewinkels wat in Bela-Bela en in Modimolle geleë is, was die afgelope week die teiken van rowers.
Twee verdagtes, gewapen met speelgoedgewere, het verlede week ’n selfoonwinkel in Modimolle van derduisende rande se selfone beroof. ’n Kliënt het op Vrydagoggend 30 Oktober net ná 09:00 by die Pep Cell in die dorp se hoofstraat ingestap en die twee vroulike personeellede huilend aangetref.
ADVERTENSIE/ADVERTISEMENT
Hy was geskok om te hoor dat die mans waarby hy verbygestap het, die winkel pas beroof het. AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het gesê die kliënt het onmiddellik hulp ontbied.
“Twee mans het gemaak asof hulle lugtyd wou koop. Hulle het hul wapens, wat toegemaak was in sakke, aan die twee vroue gewys. Die mans het drie groot sakke vol selfone gemaak en ook die geld wat in die kasregister was, gebuit,” het hy gesê.
Hulle het op die vlug geslaan in ’n swart Renault Sandero. Die waarde van die selfone beloop na raming meer as R400 000. Die Modimolle-polisie het hul eweknieë in Bela-Bela laat weet dat daar na die swart Renault gesoek word.
“Een van Bela-Bela-polisie se voertuie het verby die verdagtes se voertuig op die Eersbewoond-pad gery en dadelik omgedraai. Daar was vier verdagtes in die voertuig en toe hulle besef dat die polisie op hul spoor is, het hulle by ’n vakansieoord naby Bela-Bela ingedraai,” het Findlay gesê.
Daar het die passasiers uit die voertuig gespring en met die geld en selfone op die vlug geslaan. Die bestuurder van die voertuig is aangekeer. Kort daarna is nog ’n verdagte in die veld aangekeer en die selfone teruggevind. Die twee ander verdagtes is vort met die kontant. Van die inwoners by die oord het gehelp met die soektog na die mans.
“Die twee verdagtes is deur die Bela-Bela-polisie in hegtenis geneem op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom. Hulle sal in Modimolle aangekla word op ’n aanklag van roof. Die twee sake sal moontlik saamgevoeg word,” het Findlay gesê.
Die feit dat die wapen ’n speelgoedgeweer was, verander nie die aanklag nie. Renier van Rooyen, senior staatsaanklaer by die hof in Modimolle, het aan Die Pos gesê selfs al word ’n roof met ’n speelgoedgeweer gepleeg, bly die klag roof met verswarende omstandighede, oftewel gewapende roof soos wat dit in die volksmond bekend staan.
“Die verdagte kan wel nie op ’n aanklag van die besit van ’n vuurwapen aangekla word nie, omdat dié wapen nie afgevuur kan word nie,” het hy verduidelik.
Speelgoedgewere wat baie na die ware Jakob lyk, is vryelik beskikbaar by speelgoedwinkels. Die verdagtes is tussen 21 en 23 jaar en afkomstig van Tembisa en Hammanskraal. ’n Paar dae later is die Pep-klerewinkel in Chris Hanistraat in Bela-Bela ook beroof.
Dit was die vyfde keer dat ’n sakeperseel die afgelope paar weke in dié dorp se sentrale sakesektor beroof is. Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het gesê drie rowers het die winkel op Maandag 2 November om 07:30 betree en die personeel aangehou.
Twee verdagtes het vuurwapens gedra en het op selfone en die kontant wat in die winkel se kluis was, aangedring. Die verdagtes het met dié buit op die vlug geslaan.
Danksy ooggetuies is die nommerplaat van die voertuig, ’n Toyota Quest, nagespoor en die polisie het ander polisiestasies in kennis gestel om op die uitkyk te wees, het Maponya gesê. Die voertuig, met die drie vermeende rowers, is 15 km buite Brits op die R511-pad in Noordwes voorgekeer.
Volgens Maponya het daar ’n skietery tussen die polisie en die verdagtes plaasgevind waarna een verdagte in die been gewond is. Privaat veiligheidsbeamptes het bystand aan die polisie verleen. Die drie verdagtes het hulself kort daarna aan die polisie oorgegee.
Die polisie het bevind dat een van die rowers met ’n speelgoedgeweer gewapen was, het Maponya gesê. Die verdagtes van albei rooftogte moet nog in die Brits-, Bela-Bela- en Modimolle-howe verskyn.
- Booswigte het ook op Maandag (2 November) om 19:30 die Pep-klerewinkel in die Bela Mall geteiken. Maponya het gesê dit lyk asof hulle onderbreek is deur ’n alarm wat afgegaan het. Die onbekende aantal verdagtes het glo deur die inkopiesentrum se dak gebreek en probeer om die veiligheidstelsel te ontkoppel. Verskeie plekke in die winkel en die voordeur is beskadig. Sover vasgestel kan word het die booswigte niks gesteel nie en die ondersoek duur voort.
Baie dankie aan André Kock en Seun sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.