Altesame 1 831 verdagtes is sedert Maandag 7 Desember weens verskillende oortredings aangekeer, het kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale woordvoerder, bekendgemaak.
Hy het gesê daar is reeds 280 padblokkades gehou, 1 550 boetes uitgereik, 37 308 mense en 17 253 voertuie deursoek en sewe onwettige tavernes in die provinsie se deure gesluit.
Polisiebeamptes in die Waterberg-, Vhembe-, Sekhukhune-, Capricorn- en Mopani-omgewing het die 1 831 verdagtes verbind met inbrake, aanrandings, die besit van onwettige vuurwapens, verkragting, moord, gewapende roof, veediefstal, bedrog, die besit van dwelms en oortredings van die padverbruikerswet.
Volgens Ngoepe het die polisie ook beslag gelê op 73 vuurwapens, 11 gesteelde voertuie, meer as 25 000 bokse onwettige sigarette, dagga, nyaope en heroïen.
Die polisie het ook twee verdagtes op die N11-pad tussen Roedtan en Mokopane met 21 krokodileiers en drie krokodilvelle betrap. Volgens Ngoepe is drie verdagtes daarna aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, die oortreding van die wet op beskermde diere en die ootredings van immigrasiewette.
Die polisie in Northam buite Thabazimbi was ook op die spoor van veediewe. Ngoepe het gesê ’n 36-jarige verdagte in ’n Nissan-bakkie is aangekeer en twee beeste wat vermoedelik gesteel is, is teruggevind. Die polisie is warm op die spoor van nog verdagtes wat met die voorval verbind word.
Die 1 831 verdagtes sal na verwagting binnekort in die onderskeie howe verskyn. Ngoepe het voorts gesê lede van die publiek het in talle gevalle bygedra tot die opsporing en inhegtenisneming van die verdagtes.
Hy het ook die nommers van die onderskeie distrikbevelvoerders beskikbaar gestel aan die publiek indien hul polisieoptrede vereis of ’n klag wil aanmeld oor swak dienslewering by polisiestasies:
- Waterberggebied: Maj.genl. Rosina Mulaudzi by tel. 082 451 7217.
- Mopani: Maj.genl. Maggy Mathebula by tel. 082 499 1969.
- Vhembe: Maj.genl. Mbazima Ngobeni by tel. 082 451 7553.
- Capricorn: Maj.genl. Lesiba Mashilo by tel. 082 573 2030.
- Sekhukhune: Brig. Mosima Maila by tel. 082 565 7802.