Die voorval het op Saterdag 7 Augustus op die R101-pad tussen Modimolle en Bela-Bela plaasgevind.
Die presiese detail wat aanleiding gegee het tot die voorval is op hierdie stadium steeds onbekend.
Volgens Grobler se familie was hy glo op pad terug na sy tuiste op die Thaba Monate-wildreservaat toe hy ’n ander voertuig, ’n wit Ford Ranger, liggies met sy kar gestamp het waarna ’n woordewisseling langs die pad uitgebreek het.
Die polisie het vroeër gesê die twee mans wat in die Ford Ranger was en Grobler na bewering aangerand het, het van die toneel af gevlug.
Volgens sy familie het Grobler ernstige beserings opgedoen. Hy was teen druktyd steeds in die Warmbad-hospitaal vir behandeling en wag tans op ’n heupvervangingsoperasie.
Volgens kol. Abel Phetla, polisiestasiebevelvoerder, is twee mans, onderskeidelik 43 en 31, wat met die voorval verbind word verlede week in Boksburg aangekeer.
Een van die mans is op borgtog van R1 000 vrygelaat en die ander een is op waarskuwing vrygelaat. Die twee het egter nog nie in die Bela-Bela-landdroshof verskyn nie.
Hulle name kan eers bekendgemaak word nadat hulle amptelik op Dinsdag 7 September hul verskyning gemaak het.
Grobler se familie het intussen hul lof teenoor die polisie uitgespreek vir die wyse waarop die ondersoek gedoen is. Die saak duur voort.