Talle inwoners val steeds vir bedrieërs se leë beloftes
Die Bela-Bela-polisie het die afgelope tyd ’n groot toename in klagtes ontvang van mense wat slagoffers geword het van slenters.
Lt. kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-polisie-speurtakhoof, het aan Die Pos gesê hulle ontvang bykans daagliks klagtes. Daar is tans hoofsaaklik ses verskillende soorte bedrog wat deur die publiek aangemeld word.
Die eerste handel oor mense wat ’n oproep van ’n sogenaamde bankdiens ontvang waar die persoon hom- of haarself voordoen as ’n werknemer van die bank se bedrogafdeling.
Die persoon oortuig die slagoffer dat daar onwettige transaksies op hul bankrekening plaasvind.
Die bedrieërs stuur dan ’n “pinnommer” wat die slaggoffer moet insleutel om verdere bedrog op die rekening te voorkom. Die verdagtes kry egter deur middel hiervan toegang tot die rekening en onttrek geld na hartelus uit die slagoffer se rekening, het Smith gesê.
Die tweede soort is internetbedrog. Volgens Smith bly mense val vir “winskope” op sosiale media. Mense sien ’n advertensie vir ’n produk, reik uit na die verkoper en betaal geld oor om die produk te ontvang. Daarna verdwyn die verkoper en die produk spoorloos.
Die derde groep klagtes handel oor mense wat SMS’e ontvang dat hulle ’n groot erfporsie sal ontvang. Hulle word oortuig om duisende rande oor te betaal vir administrasiekoste voordat die “erfporsie” aan hulle uitbetaal kan word. Dit is net nóg ’n slenter, want die party wat die transaksie hanteer, verdwyn in die niet, het Smith gesê.
Die vierde, wat deeglike ondersoekwerk verg, handel oor mense wie se bankkaarte gedupliseer (gekloon) word. Talle inwoners in die omgewing het aangemeld dat hulle bankdienste hul in kennis gestel het dat hulle sekere transaksies gedoen het, maar die rekeninghouer was nie naby die betrokke winkel of kitsbank nie.
Die vyfde en sesde voorvalle gebeur in die openbaar.
Volgens Smith word inwoners by inkopiesentrums genader deur mense wat vra om ’n dringende oproep te maak. Sodra die foon aan hulle oorhandig word, laat spaander hulle met die slagoffer se foon.
Laastens gebeur dit dat verdagtes vals geld gebruik en mense oortuig om hul selfone te verkoop. Hulle bied buitensporige bedrae aan en sodra die niksvermoedende slagoffer sy of haar foon oorhandig, maak hulle hul uit die voete. Die slagoffer weet eers hulle is bedrieg as hulle die kontant wil aanbied vir betaling van produkte en dan daarop gewys word dat dit vervalste note is.
Smith het gesê daar is ’n groep verdagtes wat hulself as bankpersoneel voordoen en veral aan die einde van die maand, wanneer mense in lang rye staan om geld te deponeer, toeslaan en niksvermoedende kliënte oortuig om hul kontant aan hulle te oorhandig met die belofte dat hulle dit dan namens die kliënt op ’n ander plek in die bank sal deponeer. Die verdagtes verdwyn dan met die kontant.
“As mense iets koop, moet hulle seker maak of die produk werklik bestaan. As jou bank jou bel oor onwettige aktiwiteite, besoek jou eie tak of gebruik die korrekte bankbedroghulplyn,” het Smith gesê.
“As jy geen sterftes in die familie het nie, is daar geen erfporsie vir jou bestem nie. Moenie vir enige vreemdeling jou selfoon uitleen nie; al wil jy hoe graag help. Elke saak sal ondersoek word, maar die publiek sal hul kant moet bring deur meer waaksaam te wees.”
- Die Bela-Bela-polisie se nuwe stasietelefoonnommers is as volg:
Die polisiestasie se kliëntedienssentrumnommer is tel. (014) 736 9760/9761 of tel. 079 889 5614.
Om in aanraking te kom met kol. Abel Phetla, polisiestasiebevelvoerder, skakel tel. 082 565 8512. Vir die sigbare polisiëringsbevelvoerder, bel vir lt.kol. Piet Maswanganyi by tel. 082 414 2704.
Smith se nommer by die speurtak is tel. 082 319 9336 of bel vir AO Johan Momberg, sektorverteenwoordiger, by tel. 082 729 0259.