
Die polisie in Lephalale het op ’n onverwagte vonds afgekom nadat ’n 31-jarige man aangekeer is vir die besit van perlemoen sonder ’n permit.
In hierdie omgewing sou mens eerder renosterhoring of ietermago’s verwag omdat ons baie vêr van die see geleë is. Die buitelander is volgens ’n polisiewoordvoerder op Saterdag 27 Januarie aangekeer nadat hulle inligting ontvang het oor verdagte voertuie wat in die bosse parkeer was. Hulle het ondersoek ingestel na die wit Rhino-vragmotor en ’n silwerkleurige Volkswagen Polo en afgekom op 55 bokse perlemoen. Die man kon nie enige dokumentasie verskaf nie en is onmiddellik in hegtenis geneem. Hy sal op klagtes van die besit van perlemoen sonder ’n permit en die bedryf van ’n aanleg wat vis verwerk sonder die nodige permitte, in die hof in Lephalale aangekla word.

Perlemoen is ’n spesie seeslak van tussen 12 en 20cm, wat aan die Suid-Afrikaanse kus gekry word. Dit het’n hoë markwaarde.
Volgens die Nasionale Instituut vir Biodiversiteit hou die onwettige oes van perlemoen aan die kus en die groot vraag daarna op die swartmark, verreikende gevolge in vir die bewaring van hierdie bedreigde spesie. Die lekkerny is veral gewild in Oos-Asië.