Huisbrake neem toe in Mokopane
Die AfriForum-buurtwag in Mokopane waarsku inwoners dat daar ’n toename in huisbrake is.

“Ons sien dit hierdie tyd van die jaar wanneer mense geld nodig het. Januarie, Februarie en Maart wys gewoonlik ’n toename in inbrake,” het Hennie de Vos, voorsitter van die buurtwag, gesê.
“Waar die inbrake voorheen vroegoggend gebeur het, sien ons nou dat dit enige tyd deur die dag gebeur.”
Hy waarsku inwoners wat tuis is deur die dag asook huishulpe, om op die uitkyk te wees vir mense wat verdag lyk.
“As iemand met ’n rugsak deur die woonbuurt loop en verdag lyk, laat weet dadelik iemand sodat hy deursoek kan word. Die inbrekers hou die huise dop en breek in wanneer hulle sien dat niemand tuis is nie. Hoe vinniger ons reageer hoe meer sal ons hulle ontmoedig om in te breek,” het hy gesê.
Die buurtwag het hul patrollietye aangepas en ry nou regdeur die dag.
Die buurtwag raai inwoners aan om seker te maak dat hul huise gesluit is en vra jou huiswerker en tuinier om paraat te wees en nie inligting met ander te deel nie. As jy ’n alarm of kameras het, maak seker dat dit werk. Beelde wat jou kamera vasgevang het, kan help om inbrekers wat elders ingebreek het aan te keer as hulle deur die kameras by jou huis of die straat opgetel is. Gaan lê ’n klag by die polisie, andersins is hul hande afgekap. Vingerafdrukke kan help om verdagtes met verskeie klagtes te verbind. Raak betrokke by jou straat-, plaas- of buurtwag. Wees op jou hoede as jy jou huis verlaat en weer terugkom.
Wanneer daar wel ingebreek is, is dit baie belangrik dat daar nie te veel mense op die toneel loop en bewyse vernietig nie. Kyk of daar spore in en uit jou erf is en maak seker dit word nie vernietig nie.
Wanneer inwoners snags iets verdag hoor, moet hul liefs hul straatgroep of veiligheidsmaatskappy vir bystand skakel. Die verdagtes werk meestal in groepe en wil jou uit die huis lok.
“Ons moet na ons eie veiligheid omsien, want daar is te min polisielede om ons almal te kan beskerm,” het De Vos gesê.
Inwoners van Mokopane kan die AfriForum-buurtwag se noodnommer skakel wanneer hulle verdagte persone op straat sien by tel. 072 503 7162.
In Modimolle vind die huisbrake plek-plek plaas, volgens ao. Pieter Booyse van die Modimolle-polisie.
“Die woonbuurt in die bo-dorp is taamlik rustig, hoewel daar twee mans is wat snags rondloop en die huise dophou. Die deel tussen die braksloot, Meatrite en die hospitaal loop egter baie deur onder inbrekers en inwoners moet op en wakker wees. In Phagameng vind daar ook baie inbrake plaas,” het hy gewaarsku.
Hy raai inwoners aan om hul veiligheid op te skerp deur alarms en kamerastelsels te installeer en by veiligheidsorganisasies aan te sluit.
“Ondersteun asseblief ook fondsinsamelings om die kameras wat reeds geïnstalleer is te onderhou. Hulle is goud werd om verdagtes aan te keer.”