CrimeNews

Saak teen vakansieman uitgestel

’n Reisagent wat daarvan beskuldig word dat hy tientalle mense uit hul vakansiegeld bedrieg het, het op Vrydag 23 Februarie in die hof in Modimolle verskyn.

Die saak teen Francois Swart, direkteur van die Johannesburg-gebaseerde Priority Escapes, is uitgestel tot Vrydag 22 Maart deur landdros Hannes Stofberg. Tydens sy vlugtige verskyning was Swart geklee in ’n swart pak klere en het met sy rug na die vier ongelukkige kliënte wat teenwoordig was in die hof, gesit. Swart, wat in Desember in hegtenis geneem is, se borgtog is verleng.

Die staatsaanklaer het die hof in kennis gestel dat die ondersoek voltooi is. Die klaers is bygestaan deur adv. Gerrie Nel en sy span van AfriForum se private vervolgingseenheid.

Advertensie

Die klagtes is deur twee inwoners van Modimolle, Pamela-Ann Dolan en Bugs van Heerden, gelê nadat hulle ten volle betaal het vir ’n vakansie in die Maldives vir Oktober 2023. Swart het hulle egter kort voor die vertrekdatum in kennis gestel dat sy onderneming in finansiële moeilikheid is en hul vakansie nie kan voortgaan nie. Hulle het nie hul geld teruggekry nie.

Die saak is aanvanklik deur die Valke ondersoek, maar Dolan en Van Heerden het hul na AfriForum gewend omdat die saak gesloer het.

“Ons weet ons is ons geld kwyt, maar ons wil graag geregtigheid hê vir almal wat op hierdie wyse hul geld verloor het,” het Dolan gesê.

Daar is glo tientalle klaers betrokke en honderde-duisende rande is ter sprake.

Adv. Gerrie Nel buite die hof in Modimolle.

Na afloop van die hofverrigtinge het adv. Nel aan Die Pos gesê dat Swart se verskyning in die hof ’n groot oorwinning vir plaaslike polisie en plaaslike aanklaers is.

“Die Valke sleep hulle voete. Ons het besluit om saam met ons kliënte ’n saak in Modimolle oop te maak, wat deur plaaslike speurders ondersoek is en deur plaaslike aanklaers op die rol geplaas is en dit het nou vrugte afgewerp.”

Hy het gesê dat hulle bekommerd is omdat daar nie vordering is by sake wat deur die Valke ondersoek word nie.

Talle van die klaers is op ’n WhatsApp-groep waar hulle die saak teen Swart volg.

Volgens Louis-André Botha van Centurion het hy ’n vakansie na die Maldives vir Augustus 2023 deur Priority Escapes bespreek. Swart het hom die dag voordat hy en sy metgesel sou vlieg, gekontak en gesê dat hul vakansie nie kon voortgaan nie.

“Die vliegtuigkaartjies en hotelbespreking wat ons ontvang het, was vervals. Ek wil hê dat hy in sy spoor gestuit word sodat hy nie mense verder kan inloop nie. Hy het selfs na die eerste klagtes nie opgehou om die vakansies te bemark nie,” het Botha beweer.

Hy sê daar is meer as 50- paartjies wat op hierdie wyse geld verloor het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button