Luhan Holtzhausen (26), die direkteur van Agri IP Pty Ltd, ’n sogenaamde ondersteuningsgroep vir die landbou en jag sektor wat in Makhado gesetel is, het saam met sy medebeskuldigdes
Kristi Holtzhausen (29), Henry Hugo Holtzhausen (55) en Janene Holtzhausen (59) op Donderdag, 31 Oktober in die hof verskyn op bogenoemde aanklagte.
Die klagte hou verband met ’n transaksie op sosiale media, waar die beskuldigdes na bewering sewe 100 gram Perth goudstawe geadverteer het as te koop teen R120 000 per staaf.
’n Koper het die sewe goudstawe teen ’n bedrag van R700 000 gekoop en het nadat hy die stawe vir ontleding na Gauteng gestuur het, besef dit is nie egte goud nie.
Die koper het sy geld terug geëis en na onderhandeling het die verkopers ’n bewys van inbetaling aan hom gestuur. Die bewys was ook vervals en die ondersoek het die geld deur verskeie bankrekeninge nagespoor, insluitende dié van die verdagtes se familielede.
’n Bedrog saak is geopen, waarna ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van die vier beskuldigdes uitgereik is.
Hulle het hulself aan die SAPD oorgegee. Buiten bedrog, staar die verdagtes nou ook klagtes onder Artikel 6 van die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, Wet 121 van 1998 wat verband hou met geldwassery, in die oë.
Luhan Holtzhausen is borg toegestaan van R10 000, terwyl die ander drie beskuldigdes elk op R5 000 borg vrygelaat is. Die saak is uitgestel na 13 Januarie, 2025.
Lt. kol. Annemarie Smith van die Bela-Bela polisie het bevestig dat die saak deur die Georganiseerde Misdaad Eenheid in Polokwane ondersoek word.
11Goud vanaf die Perth Mint in Australië word hoog aangeslaan deur kopers en is gesog onder handelaars in edel metale. Die huidige goudprys is vandag R1535,35 per gram.