Municipal

Sakeliga stel hul visier op sukkelende munisipaliteite

Sakeliga, die nie-winsgedrewe organisasie wat die belange van sakeondernemings landwyd op die hart dra, het hul visier op sukkelende munisipaliteite gestel.

Sakeliga het hulle tot die hof gewend nadat die ouditeurgeneraal van Suid-Afrika (OG) geweier het om die volledige oudit- en bestuursverslae van 154 munisipaliteite wat die swakste in die vorige boekjaar presteer het, aan die publiek bekend te maak.

Volgens Sakeliga ervaar hierdie munisipaliteite ernstige probleme met dienslewering en finansiële administrasie en verteenwoordig hulle 60% van al die munisipaliteite in die land.

Piet le Roux, Sakeliga se uitvoerende hoof, het gesê:

“Die beskikbaarstelling van dié verslae kan ’n nuwe tydvak vir aanspreeklikheid van staatsamptenare, rekenskap van belastinggeld en munisipale litigasie inlui.”

Tsakani Maluleke (OG) het op Woensdag 15 Junie die departement se bevindinge met betrekking tot die 2020/2021-boekjaar bekend gemaak. Uit die 257 munisipaliteite in Suid-Afrika het slegs 41 skoon oudits ontvang. Van hierdie 41 munisipaliteite is 22 in die Wes-Kaap geleë en enkeles in ander provinsies.

Die opsommende statistiek wat deur die OG bekend gemaak is, toon dat 92% van die munisipaliteite in die Wes- Kaap skoon oudits ontvang het teenoor slegs 23% in Mpumalanga, 19% in die Noord-Kaap, 13% (vier munisipaliteite) in die Oos-Kaap, 11% in Gauteng, 7% (drie munisipaliteite) in KwaZulu-Natal en 4% (net een munisipaliteit) in Limpopo. In die Vrystaat en Noordwes het nie ’n enkele munisipaliteit ’n skoon oudit ontvang nie.

Maluleke het gesê daar het ’n merkbare agteruitgang oor die laaste vyf jaar plaasgevind wat die meeste munisipaliteite in chaos gedompel het. Sy voer aan die gebrek aan gevolge vir diegene wat hul pligte versuim, het gelei tot amptenare wat nie toegewyd of verantwoordbaar is nie.

Uit die 154 sukkelende munisipaliteite wat deur Sakeliga geïdentifiseer is, is 18 in Limpopo, waaronder ook die Modimolle-Mookgophong munisipaliteit. Hoewel die Bela-Bela-munisipaliteit ook

’n uiters swak ouditmening vir die 2020-2021-boekjaar ontvang het, is hulle nie op Sakeliga se ondersoeklys nie.

Limpopo beskik oor vyf distriksmunisipaliteite en 22 plaaslike munisipaliteite waarvan slegs een, naamlik die Waterberg-distriksmunisipaliteit, ’n skoon oudit ontvang het. Dit wys duidelik dat die huidige hoof- finansiële beampte, Takalani Muelelwa, haar sout werd is. Onder leiding van die vorige hoof, Nadine Laubscher, het hulle in 2011 en 2012 ook ’n skoon oudit ontvang.

Die Pos het die bestuursverslag van die plaaslike owerheid bestudeer. Dit was kommerwekkend hoeveel basiese dienslewerings projekte nie binne die verwagte tydlyn voltooi is nie. Voorbeelde hiervan is die opknapping van die Nyl-rioolsuiweringsaanleg en watertoevoerprojekte in Modimolle, Mookgophong, Vaalwater en Roedtan. Opgradering van die rioolafvoer in Modimolle (Joe Slovostraat), Mookgophong Uitbreiding 6 en in Alma (Wyk 2) is ook nie voltooi nie.

Die verslag dui aan dat die owerheid nie redelike stappe geneem het om die ongemagtigde uitgawes, wat ongeveer R131 miljoen beloop, te voorkom nie. Hierdie bedrag is grootliks te wyte aan oorbesteding op personeelkoste en grootmaat aankope.

Verder het die OG bevind die interne beheermaatreëls skiet ver te kort. In die finansiële afdeling is bevind dat daar onvoldoene rekordhouding, asook ondoeltreffende bestuur van debiteure (soos die jarelange uitstaande skuld van huishoudings, sakeondernemings en staatsdepartemente) is. Daaglikse en maandelikse verwerking en rekonsilliasie van transaksies word ook nie uitgevoer nie.

Luidens die verslag skuld die munisipaliteit R129 miljoen méér aan krediteure, tans net meer as R821 miljoen, as die vorige boekjaar toe die totale krediteure bedrag R 692 miljoen was. Die owerheid se terugbetaling aan krediteure neem ook langer weens die groot agterstand van uitstaande skuld aan verskaffers.

Daarmee saam neem die munisipaliteit gemiddeld 586 dae om uitstaande skuld van kliënte in te vorder teenoor 486 dae in die vorige boekjaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button