Local newsNews

Bekende oudonderwyser van Bela-Bela ná lang kankerstryd oorlede

Marié Deist (77), oud-onderwyser van Bela-Bela, is op Sondag 20 Mei oorlede ná ’n stryd met kanker.

Marié Deist (77) van Bela-Bela, ’n groot gees in die onderwys en gemeenskap, is op Sondag 20 Mei in die Phodi-kliniek (voorheen die St. Vincent’s-hospitaal) oorlede nadat sy agt jaar gelede met kanker gediagnoseer is.

Deist was lank ’n onderwyser by Hoërskool Warmbad en was wyd bekend vir haar taalkennis. Sy is in 1941 in Klerksdorp gebore en het in Skukuza, Mbombela en Witrivier grootgeword, het haar familie aan Die Pos gesê.

Sy het in 1963, ná haar tersiêre opleiding, as onderwyser in Witrivier begin skoolhou, waarna sy haar onderwysloopbaan in Mbombela, Polokwane, Modimolle en Bela-Bela voortgesit het. Sy het in 2000 afgetree.

Sy en haar man, Johan, is in 1971 getroud en het twee seuns. Sy en Johan was 47 jaar getroud.

Nadat sy afgetree het, het sy as toergids gekwalifiseer en toeriste regoor die land geneem. Sy het ook toere na Nederland, Oostenryk, Duitsland, Switser-land en België onderneem, het haar familie gesê.

“Ons ma was bo alles ’n ongelooflike en toegewyde onderwyser in Afrikaans, Duits en Engels. Haar liefde vir taal, vir kinders en mense in die alge-meen, was alombekend,” het haar seun Gerrit gesê.

“Sy was by soveel dinge betrokke.

“Benewens al die bykomende take wat onderwysers het, het sy ook vertaling en taalversor-ging van studiemateriaal, taalhandboeke, tesisse en doktorate behartig.”
Die familie sal haar onthou vir die rol in haar gesin en veral vir haar Christenskap, haar eerlik-heid, toegewydheid, goedhar-tigheid, passie, omgee, liefde, kennis, reisgierigheid en nuuskierigheid.

Deist se roudiens vind op Vrydag 25 Mei om 14:00 vanuit die NG Moedergemeente in Bela-Bela plaas.

Sy laat haar man, Johan, haar seuns, Gerrit en Karel, en hul vroue, Ment en Helen agter. Sy laat ook haar suster, Lieta en haar man Koos Prins agter. Deist was ook ’n ouma van drie kleinkinders.


For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za


 

Related Articles

Back to top button