Local newsNews

Is jou wapen dalk (nou) onwettig?

Vuurwapeneienaars sit met hul hande in hul hare ná die tersyde stelling vandeesweek van ’n hofuitspraak oor die hernuwing van vuurwapenlisensies.

Die hofuitspraak beteken dat talle vuurwapens wat se lisensies nie betyds hernu is nie, in onwettige besit is.

Die hooggeregshof het op Donderdag 7 Junie ’n uitspraak ter syde gestel wat in 2017 in die Noord Gautengse-hooggeregshof gemaak is dat alle vuurwapenlisensies wat geldig is of hernu moet word, geldig bly totdat die grondwethof uitspraak gelewer het oor die grondwetlikheid daarvan.

Artikel 24 en artikel 28 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) is dus wel grondwetlik. Artikel 24 handel oor die hernuwing van lisensies en stipuleer dat hernuwings binne 90 dae nadat die lisensie verval moet plaasvind. Artikel 28 bepaal dat vuurwapens wat se lisensies gekanselleer is, binne 60 dae aan die polisie oorhandig moet word.

Die Suid-Afrikaanse Jagters en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) het in ’n verklaring gesê hulle sal aanhou om met die polisie in gesprek te tree en oplossings soek vir die administratiewe probleme wat vuurwapeneienaars beleef. Hulle hoop dat ’n amnestieperiode aangekondig sal word sodat eienaars heraansoek kan doen vir lisensies.

Die SAJWV het gesê hulle is teleurgesteld in die grondwethof se uitspraak aangesien dit geen verligting vir die duisende wapeneienaars bied wat hul lisensie nie betyds hernu het nie en dit nou aan die polisie moet oorhandig om vernietig te word, het die verklaring gelui.

“Die vraag ontstaan steeds of die polisie die kapasiteit en vaardigheid het om groot getalle vuurwapens wat by hulle ingehandig gaan word, te kan stoor,” het Fred Camphor, hoof- uitvoerende beampte van die SAJWV, gesê.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, het in ’n verklaring gesê die hof moes nie net op die grondwetlikheid van die artikels gefokus het nie, maar ook op die “chaos by die sentrale wapenregister”.

“Die uitspraak skep die indruk dat daar teen vuurwapeneienaars gediskrimineer word en dat hulle ontwapen word bloot weens ’n administratiewe of menslike fout,” het Groenewald gesê.

“Die hoë voorkoms van geweldsmisdade soos roof, kapings en huisroof in Suid-Afrika, laat die publiek geen keuse as om hulself te bewapen vir beskerming nie.”

Kapt. Jacques Vierbergen van die vuurwapenafdeling by die Bela-Bela-polisie, het by navraag aan Die Pos gesê indien eienaars hul eie wapens vernietig, oortree hulle die wet en hulle kan ’n boete of tronkstraf opgelê word.

Related Articles

Back to top button