Vaalwater se Van der Merwes ry met hul ou groen Ford
Die Ford-bakkie het aan Hannetjie se pa, Gerrit Grobler, behoort het. Hy het die bakkie aan hulle seun, Gerrit (30), bemaak, het Boet gesê.

Die groen 1942 Ford-bakkie wat Vaalwater se teer- en stofpaaie platry, is alombekend in die dorp.
Die Pos het ’n draai by Boet van der Merwe en sy vrou, Hannetjie, gemaak om meer oor die groen Ford van Vaalwater uit te vind.
Hannetjie het vertel dat die Ford aan haar pa, Gerrit Grobler, behoort het. Hy het die bakkie aan hulle seun, Gerrit (30), bemaak, het Boet gesê. Hannetjie het bygevoeg dat Boet besig is om die Ford weer ’n nuwe baadjie te gee. Dit was ook hy wat die voertuig die vorige keer herstel het.
Hulle het in 2014, toe haar pa nog geleef het, van Mosselbaai na Vaalwater verhuis. Tydens die trekproses tussen dié twee dorpe het ’n sleepwa uit die teenoorgestelde rigting los gekom en die Ford aan die bestuurderskant getref. Die duik is nou nog daar.
“’n Ander keer, net ná my ma se dood, het Boet op die Melkrivier-pad vir ’n koedoe uitgeswenk en in ’n sloot gejaag,” het sy gesê. “Dit is tóé dat die stuurmeganisme so ’n bietjie seergekry het, soveel so dat as ’n mens nou bestuur, sal dit lyk asof ’n mens in ’n ou fliek speel,” het Boet gesê.
Die Van der Merwes het vir 30 jaar in Mosselbaai gebly en is nou reeds vyf jaar in Vaalwater. Hannetjie se ouers Gerrit en Klein Grobler het ook na Vaalwater verhuis. Klein (65) is in Augustus 2016 oorlede. Hannetjie het gesê haar pa was lief daarvoor om te vertel hoe hy haar ma eenkeer “verloor” het. Die Ford se deur was op ’n skerp draai nie op knip nie toe val ouma Klein uit die voertuig. “Ek onthou my pa se stem as ons wou ry, ‘al die kleinkinders in die Ford’. Dit is woorde wat ons nou nog gebruik. Die Ford kom my lewe lank saam met my en dit bly in die familie,” het Hannetjie verklaar.
Boet het gaan seker maak en gesê die myle staan nou op 820 990. Die Ford kan 100 myl per uur ry en sy brandstofverbruik is 10 myl per liter.
Die binneruim is steeds pragtig met die mooiste stuurwiel, ronde staal pedale, twee toeters waarvan een vir groet en een vir waarsku is en ’n baie gemaklike sitplek waarvan die ontwerp en gemak enige restaurant jaloers sal maak.
“Dit is net jammer ons kan hom nie met sy modderskerm afneem nie,” het Boet gesê. As die bakkie weer oorgedoen is, sal Vaalwater se groen Ford sonder ’n duik of ’n roesplek wees én met ’n modderskerm op.