Die Pos blink uit by gesogte Caxton-toekennings
Die Pos het vanjaar geskitter by die luisterryke Caxton-toekennings vir die gedrukte media. Die geleentheid is op Donderdag 28 Mei by Time Square in Pretoria gehou.

Die Pos het in vyf kategorieë onder die topvyf koerante in die land geëindig.

Willie Nel en Keina Swart was onder die topvyf in die kategorie Voorblaaie van die Jaar. Bea Emslie, Marietjie Steenkamp, Lesley Barnard, Maria Oberholzer, Willie Nel, Petro Greeff en Carina Bester was onder die topvyf in die afdeling vir Beste Bylae.

Nog finaliste was Herman Steyn vir Nuusfoto van die Jaar en Sportfoto van die Jaar en Ronel van Jaarsveld, Die Pos se verslaggewer in Modimolle, was onder die topvyf in die afdeling vir Joernalis van die Jaar.

Slegs ’n wenner is in elke kategorie aangewys en hoewel Die Pos nie met een eerste plek weggestap het nie, is dit steeds ’n reuse-eer om benoem te word aangesien daar meer as 100 koerante landwyd in die Caxton-stal is.


Baie geluk aan dié span van Die Pos wat die Waterberg se naam hoog gehou het.