Local newsNews

Televisies, selfoonlaaiers, ligte, wasmasjiene beskadig ná skok

Die inpak van die botsing het veroorsaak dat verskeie inwoners skade aan huishoudelike toestelle ondervind het toe ’n transformator beskadig is.

Die konstruksievoertuig wat op Woensdag 5 Junie teen ’n transformator in Vaalwater gebots het, het vir groot konsternasie gesorg.

Die voertuig was besig om paaie in die omgewing op te gradeer toe die botsing plaasgevind het. Die inpak van die botsing het veroorsaak dat verskeie inwoners skade aan huishoudelike toestelle ondervind het toe ’n transformator beskadig is.

Donovan Honiball, ’n inwoner van Parkstraat, het aan Die Pos gesê hy het skade aan verskeie huishoudelike toestelle gehad soos selfoonlaaiers, gloeilampe, sy televisie en wasmasjien.

Ook by die Vaalwater-woonstelblok is skade aangemeld. Sophia Coetzee het gesê haar woning se voorafbetaalde kragmeterboks is beskadig. Teen druktyd het die munisipaliteit dit reeds herstel. Die stroombreker by haar woning se verdeelbord is ook uitgebrand. Sy het egter ook skade aan haar televisie en dekordeerder gehad. Die elektriese hek by Vaalwater-woonstelle se motor en veiligheidsligte het ook in die slag gebly.

Mervin van der Merwe (winkeleienaar in die township), het aan Die Pos gesê sy televisie, selfoonlaaiers en ligte is beskadig.

Heavy Khanya, wat al sedert 2010 vir die munisipaliteit as elektrisiën werk, het by navraag aan Die Pos gesê mense wat nie versekering het nie en skade gely het, moet by die munisipaliteit se rampfonds aanklop om moontlike vergoeding vir verliese gely.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het by navraag gesê versekeraars sal gewoonlik in gevalle soos hierdie onderling met mekaar ooreenkom vir uitbetalings.

Related Articles

Back to top button