Jagters geroskam oor foto’s
Die winter is jagtyd in die Bosveld en menige jagter spog gereeld met jagfoto’s.

Die plaas van jagfoto’s lok egter baie (soms onnodige en lasterlike) kritiek onder veral bewaringsbewustes uit.
Die Pos het probeer uitvind waar die fyn lyn lê in die publisering van jagfoto’s, want daar is streng wetgewing wat albei kante van dié spektrum beskerm.
Ons het gaan kers opsteek by Helene Eloff, regsadviseur van die Caxton-koerantgroep en by Nico Weppener, voorsitter van die Bosveld-jagtersvereniging (BJV).
Eloff het in reaksie gesê: “Gestel mnr. X jag met die nodige permit op ’n jagreservaat. Hy plaas ’n foto van sy suksesvolle jagtog op Facebook. Mnr. Y brandmerk hom as ’n skelm en noem hom gewelddadig en wreed. Mnr. X se regsposisie is dat hy belaster is deur die publikasie van ’n stelling wat hom as ’n skelm, wreed en gewelddadig voorstel. Mnr. X kan skadevergoeding van mnr. Y eis op grond van laster,” het Eloff gesê.
“’n Goue reël is om nie iets kwyt te raak wat nie waar of in die openbare belang is nie. Waarheid en openbare belang verwys na inligting wat gemeenskapslede nodig het om verantwoordelike besluite te neem. Kommentaar of ’n mening sal slegs as verweer teen ’n lastereis dien as dit gegrond is op feite in die openbare belang en vry is van venyn,” het Eloff gesê.
Weppener het in reaksie gesê al was die jagtog wettig en eties, wil die BJV hul lede aanraai om nie hul jagfoto’s op sosiale media te plaas nie.
“Daar is baie sensitiewe kykers en daarom behoort slegs jagfoto’s wat in goeie smaak is, geplaas te word. “Geen bloed moet gesien word nie,” is sy raad. “Ongelukkig is daar altyd mense wat nie dink voordat hulle iets doen nie.”
Volgens hom is daar deesdae ’n sterk kultuur wat die jagbedryf veroordeel, al dra die bedryf miljarde tot die ekonomie en bewaring by.
Volgens Weppener is daar ’n groot verskil tussen werklike jagters en amateurs wat die bedryf skade kan berokken. Hy het uitdruklik gesê alkoholmisbruik en vuurwapens moet “nooit saamloop nie”.
“Al ons lede volg bekwaamheidskursusse en word geleer wat etiese jaggedrag is. Mense wat onsmaaklike jagfoto’s van hulself en hul bebloede trofeë plaas, word aangespreek en kan dissiplinêr- en geregtelik vervolg word as hulle die wet oortree.”
Eloff het gesê fluitjieblasers wat onraad in die bedryf vermoed of onreëlmatigheid gesien het, moet hul feite reg hê voordat hulle aantygings in die openbaar maak.
“Mense wat dié wet oortree, kan gedagvaar word vir laster, maar die verweer van waarheid en openbare belang behoort gebruik te word om aanspreeklikheid vry te spring.”
“Iemand wat ter goeder trou ’n misdaad aanmeld, hoef glad nie die aantyging van meineed te vrees nie, want hy of sy het nie die bedoeling gehad om te bedrieg nie. Mense wat egter opsetlik valse verklarings by die polisie aflê, behoort so ’n aantyging te vrees,” het Eloff gesê.
Weppener se aanbeveling vir jagters wat met trots hul trofeë met die wêreld wil deel, is om die BJV te nader en hul foto’s in die gereelde BJV-uitgawe te laat publiseer.
“Die jagbedryf staan tans sterk en solank alles wettig gedoen word, bly ons trots op ons bedryf en ons jagters,” het hy gesê.
“Ons probeer al vir jare om die waarde van die bedryf in natuurbewaringskringe te bevestig deur die benutting en bestuur van natuurlike hulpbronne. Die BJV, asook die Nasionale Konfederasie van Jagtersverenigings van Suid-Afrika (Chasa), leer veral jongmense wat die waarde van jag en die natuur is. Dit is te danke aan die jag- en wildbedryf dat daar vandag meer wild in Suid-Afrika is as wat daar 60 jaar gelede was.”