Luiperd doodgery op R101
Inwoners buite Bela-Bela was geskok en verbaas toe ’n jong luiperd op Vrydag 26 Julie op die R101-pad tussen die ATKV Klein-Kariba-vakansieoord en die Negester-aftreeoord se afrit doodgery is.

Tersia du Plessis, ’n Negester-inwoner, het aan Die Pos gesê sy vermoed die ongeluk het teen ongeveer 06:30 plaasgevind.
Sy en haar man was onderweg na Thabazimbi toe hulle ’n groep mense en die dooie luiperd langs die pad gewaar het.
“Die arme dier was nog warm. Niemand weet hoe of deur wie die dier raakgery is nie,” het sy gesê.
Dit is alombekend dat luiperds in die Waterberg-omgewing voorkom.
Ian Nolte, ’n inwoner van die Verloren Lifestyle Estate en natuurkenner, het gesê gewone wildheinings skrik nie luiperds af nie. Geëlektrifiseerde heinings soos op Verloren kan wel hul natuurlike bewegings beperk.
“Hulle kan bome klim en sodoende oor die heinings spring. Mannetjies lê baie kilometer af op soek na kos en na wyfies. Daar is baie bobbejane, vlakvarke, rooibokke en ystervarke in die omgewing wat graag deur luiperds gejag word.”
Kobus Pienaar van die departement van plaaslike ekonomiese ontwikkeling en toerisme (LEDET) het by navraag gesê luiperds is onlangs in die Kranskop-omgewing gewaar.
“Daar is nog baie luiperds in die Waterberg, maar menslike beweging skrik hulle af. Dié betrokke luiperd is waarskynlik per ongeluk raakgery, hoewel die diere deur provinsiale en nasionale wetgewing as ’n beskermde spesie beskou word.”
Hy het voorts gesê luiperds kan slegs met die nodige permitte gevang en aangehou word.
Pienaar het gesê luiperds is gevaarlike diere en moet in alle gevalle met omsigtig-heid gehanteer word.
“Luiperds kom altyd terug na plekke waar hul voorheen was. Dit maak daarom nie altyd sin om ’n luiperd uit sy bekende gebied te verwyder en elders te hervestig waar hy of sy moet veg om oorlewing nie. Veral waar ander luiperds in ’n gebied is, sal hulle die nuwe luiperd as ’n indringer beskou,” het hy gesê.
“Daar is baie voorkomende maatreëls wat mense by lodges, plase en woonhuise kan tref om luiperds uit te hou,” het hy gesê. “Daar is baie leeuplase in die omgewing waar mense leeumis kan koop om rondom hul eiendomme te strooi. Dit is ’n natuurlike afskrikmiddel vir luiperds en is boonop goedkoop.”
Hy het gesê dit gebeur baie selde dat luiperds mense aanval. Die gevaar tree in wanneer die diere vasgekeer voel of wanneer ’n wyfie haar werpsel wil beskerm.
Indien mense op ’n luiperd afkom wat ’n moontlike gevaar inhou, kan hulle vir Pienaar bel by tel. 082 809 8875 of die LEDET-kantoor in Modimolle by tel. (014) 717 3567.