Dié vrou skep ’n veilige hawe vir kinders
Die Pos het vandeesweek by Elsabé Gordon van Mookgophong gaan inloer vir ons maandelikse Brugbouer-rubriek.

Gordon het ’n passie vir kinders en is reeds meer as 20 jaar by die versorging van kinders betrokke. Sy help ook met hul tuiswerk. Sy en haar man, James, het van Josini na Mookgophong verhuis nadat die Weermag hom ná die dorp verplaas het.
Sy is ’n boerenooi van Volksrust en het haar skoolloopbaan in Vryheid voltooi waarna sy in Pretoria gaan verpleeg het. Ná haar troue het die egpaar in Kaapstad gewoon waar sy vir die eerste keer by kinderversorging betrokke geraak het.
Sy het tans ’n sentrum waar sy vir ’n groep kinders ’n heerlike bord kos gee en hulle dan help om hul tuiswerk te doen.
“Van die ouers betaal my, maar ander kan dit nie bekostig nie.”
Teen einde verlede jaar het sy reeds ongeveer 150 kinders versorg.
Die Pos het aan haar ’n paar vrae gevra:
Watter liefdadigheidsinstansie of –saak lê jou na aan die hart en hoekom?
Maatskaplike dienste lê my baie na aan die hart omdat daar soveel kinders in nood in Mookgophong verkeer. Ek kan nie eens beskryf hoeveel kinders ek al in my 20 jaar in die dorp gesien swaarkry het nie. Ek het al ’n ver pad met die maatskaplike werkers in ons dorp gestap.
Watter sosiale medianetwerk gebruik jy die meeste en hoekom?
Ek voel dat die WhatsApp-groepe en Facebook die beste kommunikasie- en inligtingsplatforms is wanneer daar ’n krisis ontstaan en kinders dringend gehelp moet word.
As jy R1 miljoen kry om in jou gemeenskap te bestee, wat sou jy eerste doen?
Ek sal dadelik ’n plek inrig met huisvesting vir ongehude moeders waar hulle en hul babas versorg kan word. Ook ’n kleuterskool waar die kleuters versorg kan word terwyl hul ouers werk.
Dit sal die mammas die geleentheid bied om hul eie plekkie in die son te kry terwyl ek hulle meer kan leer van kinderversorging, huishoudelike take en hoe om ’n selfstandige lewe te lei.
Watter aanhaling inspireer jou?
Wanneer ek oor kinders praat, dink ek altyd aan Jesus wat gesê het dat die kindertjies na Hom toe gebring moet word. Ek wil hulle na Hom toe bring en vir Hom ’n mondstuk wees in ons dorp.
Wat het jou oortuig om te doen wat jy doen?
Ek het ’n verstandelik gestremde boetie gehad en het maar altyd my ma gehelp met sy versorging. Nadat ek in die kindersaal verpleeg het, het ek besef dat ek met kinders moet werk. Daarna het die Here met my ’n pad geloop tot waar ek vandag doen wat ek doen.
Wat leer jy by kinders?
Kinders is so kosbaar en kwesbaar en daar is so baie van hulle wat regtig nie ’n plek het waarheen hulle ná skool kan gaan nie. Ek wil hulle help om hul tyd sinvol in ’n veilige omgewing te bestuur.
Wat is jou droom vir die gemeenskap?
Hier is so baie kinders in ons dorp wat swaarkry en ek sal graag ’n groot sentrum wil hê waar ons net die beste vir hulle kan gee. Ek is lief vir hulle almal, ongeag wie hulle is.
Het jy raad aan voornemende brugbouers?
Ek voel dat brugbouers die verlede agter hulle moet laat en ons kinders moet inspireer en vir hulle hoop moet gee.