Oud- Hansie sing die wêreld aan die brand
Anne-Marie Mailovich (20 ), oudleerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, sing deesdae die wêreld aan die brand.

Mailovich is ’n sangstudent in haar derde jaar aan die Tshwane University of Technology.
Sy het as mezzosopraan verskeie hoogtepunte beleef, waaronder drie goue, twee silwer en ’n bronsmedalje vroeër vanjaar tydens die 22ste Suid-Afrikaanse kampioenskap vir Uitvoerende Kunste.
Sy het ook op Sondag 19 Mei tydens die Arnold Classic Africa Sport Festival se openingsgeleentheid die volkslied gesing en daarna was sy in die bekende opera, La Traviata, in die Johannesburg-teater te sien.
’n Groot eer het haar ook te beurt geval toe sy as beurshouer van die gesogte Abe Bailey Foundation aangewys is waar sy haar in uitgelese geselskap bevind as een van die 18 studente (ambassadeurs) wat 22 Suid-Afrikaanse universiteite verteenwoordig.
Die beurs word jaarliks toegeken aan top studente op junior lektorvlak. Beurshouers onderneem vanaf 24 November tot 22 Desember ’n uitgebreide studiereis na Engeland en Skotland. Hulle sal ook die Afrika-unie se hoofkantoor in Addis Ababa, Ethiopië, besoek.
Die beurs word moontlik gemaak deur die trust wat ná die afsterwe van Sir Abe Bailey in 1942 gestig is.
Die beurs se doelwit is om jong Suid-Afrikaners se horisonne te verbreed, verskillende kulture te leer ken en saam te werk aan die toekoms oor kleurgrense, tale en kulture. Daar word veral klem gelê op die ontwikkeling van leierskap en onderwys.
Mailovich se program is reeds volbespreek vir die jaar wat voorlê en in September beoog sy om oudisies af te lê vir keuring vir verdere studies in sang.