Maak behoeftige kinders bly met dié geskenke
’n Groep besorgde inwoners van Bela-Bela het met ’n projek begin waar hulle skoenbokse vol benodigdhede aan kinders van die dorp verskaf.

Die projek heet die Jesus-skoenboksprojek en daar word aanvanklik net op behoeftige leerders van Laerskool Warmbad gekonsentreer.
Volgens Franci van Heerden, wat die projek saam met Monique Uys bestuur, is verskeie organisasies, sakelui, kerke en individue reeds met die projek gemoeid.
Daar is, in samewerking met die skool se maatskaplike werker, altesame nege behoeftige seuns en vyf dogters in gr. 7 geïdentifiseer wat aanstaande jaar hoërskool toe gaan. “Ons wil hierdie kinders graag waardig hoërskool toe stuur en daarom wil ons hulle toerus met al die nodige skryfbehoeftes, toiletware en basiese klere soos skoolkouse.
Die skool het ook 46 kinders in die ander grade uitgewys wat werklik sal baatvind by dié geskenkbokse.
Volgens Van Heerden verlang hulle geldborge omdat hulle graag al die pakkies dieselfde wil verpak. Die pakkies sal op Woensdag 20 November afge-lewer word.
Mense wat graag ’n bydrae tot die projek wil lewer, kan vir Van Heerden bel by tel. 063 254 1870, of Uys by tel. 082 071 7170 of vir Thinus van der Heever by tel. 082 338 5689.