Waar is die Waterberg se grootste pampoene?
Die gewilde jaarlikse Goliat van Gat-pampoenkompetisie word nou ook in Bela-Bela aangebied.

Dié geleentheid word deur die Waterberg Distrikslandbou-unie (WDLU) aangebied en daar is groot pryse vir die een wat die beste pampoen gekweek het.
Die huidige Suid-Afrikaanse rekord van ’n oranje pampoen is 500 kg. In Amerika het die rekordpampoen ’n allemintige een ton geweeg.
Henk van de Graaff, streekvoorsitter van die Transvaalse Landbouunie (TLU), asook voorsitter van die WDLU, het gesê die plaaslike kompetisie sal ’n week voor die hoofkompetisie in Maart aanstaande jaar plaasvind. Plaaslike boere sal dus teen einde Februarie 2020 moet aantree met hul bieliepampoene.
Dit neem ’n pampoen ongeveer drie maande om te groei tot rekordgrootte.
“Skole en ouetehuise is al jare lank betrokke by die groot kompetisie wat jaarliks by die Boeremark in Pretoria gehou word,” het hy gesê.
“Die saad vir die reuseoranje pampoen word jaarliks deur TLU SA uit Amerika ingevoer. Die kompetisie word as ’n liefdadigheidsprojek aangebied en die pampoene word na afloop van die kompetisie aan minderbevoorregtes geskenk.”
Daar is geen ouderdomsbeperking vir mense wat wil inskryf nie.
Die WDLU nooi sakeondernemings om betrokke te raak en pryse vir die wenners te borg.
Die voorgeskrewe saad wat deelnemers kan plant is beskikbaar by Sylvia Higgins, WDLU-sekretaresse, teen R50. Die aankoop van die saad dien as ’n inskrywing, het Van de Graaff gesê.
Bel vir Higgins by tel. 071 847 4161.