Inwoners gee moed op ná vyf uur se gewag by munisipaliteit
Lede van die publiek wat die Bela-Bela-munisipaliteit se laaste munisipale vergadering wou bywoon se geduld het ná vyf uur se gewag opgeraak.

Die vergadering is op Woensdag 30 Oktober by die munisipale kantoor in die dorp gehou.
Die vergadering het om 10:00 begin, maar nadat Henriëtta Ledwaba, ANC-raadslid en hoofsweep van die party, gevra het dat die vergadering “in komitee moet gaan”, het Zacharia Moeletsi, speaker van die raad, die publiek en die media gevra om die vertrek te verlaat.
Die sake wat bespreek is, is as vertroulik beskou. Die amptelike raadsvergadering het daarna eers om 15:15 begin. Teen dié tyd het die stampvol saal van vroeër die oggend bykans dolleeg geloop.
Die Pos het vertroulik verneem dat die inligting wat net vir die raadslede se ore bedoel was, gehandel het oor vermeende bedrog in die munisipaliteit, interne munisipale oudits, ongerymdhede met raadslede se salarisse, asook die veelbesproke vlootkontrak met Dikala Plant hire CC wat tot peperduur hofkoste vir die munisipaliteit gelei het.
Die detail van dié besprekings is nie aan die publiek bekend gemaak nie, maar die inligting van die raadsvergadering is wel beskikbaar gestel.
Tinus Ras, DA-raadslid, het na afloop van die vergadering gesê die berig in Die Pos van Vrydag 25 Oktober rakende die finansiële toestand van die munisipaliteit is steeds ’n uiters relevante saak.
Kommer heers oor munisipale skuldinvordering en oor die munisipaliteit se uitgawes in die volgende paar maande.
Die munisipaliteit se krediteure is ook ’n bekommernis aangesien die munisipaliteit miljoene rande skuld het.
Dikala is een van die krediteure wat op meer as R60 miljoen aandring nadat die munisipaliteit hul kontrak wederregtelik gekanselleer het.
Die hooggeregshof het reeds beslis dat die munisipaliteit dié uitstaande skuld moet vereffen.
Dit het tydens die raadsvergadering aan die lig gekom dat die munisipaliteit vordering gemaak het met die ondersoek na onwettige krag- en wateraansluitings in die dorp en township.
Ongeveer 700 township-erwe het die afgelope drie maande geen krag gekoop nie. Dit het die munisipaliteit die moontlikheid van onwettige aansluitings laat ondersoek.
Uit die 214 erwe wat deur die munisipale amptenare besoek is, was daar 64 erwe met onwettige aansluitings. Luidens munisipale rekords het van die skuldiges ook ondernemings van dié erwe bedryf sonder die nodige goedkeuring.
Mense wat onwettige aansluitings doen, kan ’n boete van tot R20 000 deur die munisipaliteit opgelê word, lui die verslag.
Verder het die munisipaliteit tussen Julie en September altesame 186 368 kl water verloor weens foutiewe watermeters, lekkasies en reservoirs wat oorvloei.
Tussen Julie en September het die tegniese afdeling 111 foutiewe straatligte herstel.
As deel van hul proaktiewe instandhoudingsplan het die munisipaliteit in dieselfde tydperk 140 inspeksies by substasies en ander krageenhede in die omgewing gedoen en ook die nodige opvolg-
instandhouding gedoen, lui die verslag.
- Die munisipaliteit sal op Dinsdag 24 Desember gesluit wees, waarna dit in reses sal wees vanaf Vrydag 27 Desember tot Donderdag 2 Januarie. Sekere afdelings moet wel beskikbaar wees sodat dienslewering tydens en ná die feesseisoen kan voortgaan.