Jubelende klanke nadat kerkorrel gerestoureer is
“’n Mens kan hóór daar is aan die orrel gewerk,” het ds. Riaan Oberholzer, gesê. “Die klank is weer helder.”
Die groot, ou orrel in die kerkgebou van die NG-gemeente Waterberg in Modimolle basuin al 64 jaar lank musiek uit en deesdae is die orrel se stem weer kristalhelder nadat dit gerestoureer is.
Die orrel se 1 990 pype, wat wissel van so groot soos ’n vuurhoutjie tot meer as 3 m lank, is deur die orreldokter Joop Admiraal uitgehaal, skoongemaak en herstel. Van die swelbalk se oorspronklike leer het verbrokkel en is ook vervang.
“’n Mens kan hóór daar is aan die orrel gewerk,” het ds. Riaan Oberholzer, gesê. “Die klank is weer helder.”
Die Walcker-orrel is in 1956 geïnstalleer in die kenmerkende glinsterwit kerkgebou wat in Thabo Mbekistraat in die dorp staan. Die gebou is reeds 122 jaar oud. Die gemeente vier aanstaande jaar hul 160e bestaansjaar en beplan groot feesvieringe.
Die orrel met sy nuwe stem kry in November reeds die geleentheid om te jubel tydens ’n orrel- en vioolkonsert deur Ockie Vermeulen en Lizelle le Roux. Albei hierdie gerekende musikante het doktorsgrade en het ook Ghoema-toekennings verwerf.
Le Roux het tydens haar studie ’n Royal School of Music-beurs ontvang om haar meestersgraad aan die Royal Scottish Academy in Glasgow voort te sit.
Sy is daar as die beste student aangewys. Sy het as solis saam met nasionale en internasionale orkeste opgetree en ook deelgeneem aan produksies soos Afrikaans is Groot en het reeds vier albums vrygestel.
Vermeulen het op sy beurt ’n Fullbright-beurs ontvang, waarna hy sy meestersgraad in orrel aan die universiteit van Noord-Texas verwerf het. Hy het sy doktorsgraad in uitvoerende kuns in Suid-Afrika (cum laude) voltooi. Hy is in 2016 as senior lektor in musikologie aan die Universiteit van Suid-Afrika aangestel waar hy die universiteitsorrelis en kurator van die indrukwekkende Rieger-orrel is. Hy studeer tans verder in ’n mediese rigting.
Die konsert vind op Saterdag 16 November om 16:30 in die Witkerk op die hoek van Thabo Mbeki- en Kerkstraat plaas. Kaartjies kos R100 per persoon en sluit ’n vingerete in.
Vir meer inligting skakel tel. (014) 717 3897 (soggens).