Gevreesde bek- en-klouseer terug
Die gevreesde siekte bek-en-klouseer het wéér uitgebreek — dié keer heelwat nader aan die Waterberg, wat bekend is as landbouwêreld.
Die departement van landbou, bosbou en vissery het op Woensdag 6 November in ’n verklaring bevestig dat die siekte in die Molemole-omgewing, net noord van Polokwane, uitgebreek het.
Bek-en-klouseer is ’n ernstige, hoogs aansteeklike virussiekte wat die veebedryf ernstig kan knou. Dit raak beeste, varke, skape, bokke en ander diere met gesplete hoewe, maar nie mense nie.
Tekens van die siekte sluit in depressie onder diere, sere in die bek, diere wat onwillig is om te eet en verlamming.
Die siekte het ook in Januarie vanjaar in die Vhembe-omgewing, noord van Polokwane, uitgebreek. Die gebied is eers einde Mei as siektevry verklaar nadat maatreëls ingestel is om die siekte te bekamp.
Die eerste tekens van die nuutste uitbraak is op Vrydag 1 November aangemeld.
Luidens die verklaring is bloedmonsters deur lede van die Onderstepoort-veeartsenykundige navorsingsprogram vir oorgrensdieresiektes getoets en het hulle bevestig dat dit bek-en-klouseer is.
Volgens die departement is die nodige voorsorgmaatreëls getref om die siekte te bekamp.
Die departement probeer in sy ondersoek bepaal waar die nuwe virus vandaan gekom het en waarheen dit moontlik versprei het.
Die betrokke plaas waar die siekte uitgebreek het, is intussen onder kwarantyn geplaas.
Jacques Smalle, die DA se provinsiale leier, het gesê nalatigheid aan die kant van die departement kan nie buite rekening gelaat word nie. Volgens hom moes die omgewing behoorlik gemoniteer gewees het ná die vorige uitbraak.
“Indien die siekte nie vinnig onder beheer gebring word nie, kan mense in die veebedryf hul werk verloor,” het hy gesê.
Smalle het reeds ’n dringende versoek aan Nandi Ndalane, LUR van landbou, gerig om in te gryp.
Hoewel sekere moratoriums op die uitvoer van veeprodukte sedert die vorige uitbraak gelig is, kon die departement geen aanduiding gee van hoe die huidige uitbraak die land se bek-en-klouseervryestatus en handel sal raak nie.
Henk van de Graaff, streekvoorsitter van TLU SA, het gesê die uitbraak is slegte nuus vir boere, omdat grense weer gesluit kan word vir uitvoere.
“Volgens inligting wat TLU SA bekom het, is dié geval by ’n voerkraal gevind en is die betrokke beeste by ’n veiling gekoop.
“Dit is dus duidelik dat die maatreëls wat ingestel is om bek-en-klouseer te voorkom nie voldoende is nie of nie afgedwing word nie,” het hy gesê.
Volgens hom het die regering laat slaplê met sy voorkomende maatreëls en nou ly die ekonomie daaronder.
TLU SA én die departement raai afslaers, agente, kopers en boere aan om diere vir simptome dop te hou en hulp te ontbied om verdere verspreiding van die siekte te voorkom.
“Mense wat nalatig was, moet tot verantwoording geroep word. Ons wil graag hoor van produsente wat as gevolg hiervan skade ly,” het Van de Graaff gesê.