Local newsNews

‘Ons weet julle is kwaad,’ sê DG van landbou aan boere

Daar is min antwoorde uit regeringskringe oor die jongste bek-en-klouseerkrisis.

’n Noodvergadering hieroor is op Woensdag 20 November by André Kock en Seun se veilingskrale buite Bela-Bela belê.

Prominente mense in die regering en veebedryf het die vergadering bygewoon. Mosiuoa Lekota, leier van COPE, Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, asook Michael Mlengana, direkteurgeneraal (DG) van die departement landbou, bosbou en vissery was onder die gaste.

Die vergadering het gevolg nadat daar die afgelope week sprake was van ’n “boikotveiling” dieselfde dag by diéselfde veilingskrale. Dié besluit is egter herroep. Van die boere het egter steeds met hul vee by die veilingskrale opgedaag.

Wild- en veeboere het veral daarop aangedring om te weet tot wanneer die veilingsverbod in Limpopo, Noordwes, Gauteng en Mpumalanga sal geld.

“Ek weet julle is kwaad en ons wil nie enige veiling keer nie, maar ons het geen ander keuse gehad nie,” het Mlengana tydens die vergadering gesê.

“Sodra ons die oorsprong van die siekte kan vasstel, sal ons die verbod lig, maar as ons dit nou doen, sal vleispryse, wat reeds erg gedaal het, verder val. Ons hoop om binne die volgende twee tot drie weke — dalk ’n maand — die verbod te lig.”

Daar is uitdruklik tydens die vergadering gesê dat geen vee uit die noorde van Limpopo se gevaarsone tans vervoer of op veilings verkoop mag word nie. Boere en privaat veeartse of staatsveeartse moet ook gebruik word om diere te toets.

Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum, het gesê hy vermoed die virus het reeds na 35 eiendomme in die noorde van Limpopo versprei nadat daar vroeër ’n veiling in die Dendron-omgewing gehou is.Vyf bevestigde gevalle is aangeteken, maar volgens hom het die siekte moontlik reeds noord én suid van Polokwane versprei.

Boere uit die gehoor het daarop aangedring dat die regering padblokkades hou en toesien dat geen vee die provinsie verlaat nie.

Aanlynveilings mag wel plaasvind, maar verkopers moet klaringsertifikate van erkende veeartse verkry voordat diere vervoer mag word.

Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, het gesê besmette diere se vleis is wel veilig vir mense om te eet.

Boere is aangeraai om die departement se webwerf te besoek en die veiligheidsmaatreëls te volg hoe om hul veekrale teen die siekte te beskerm. Een van die maatreëls was dat veetrokke buite die plaas gesteriliseer moet word voordat diere daarop gelaai word.

Kommer is ook uitgespreek omdat talle opkomende boere tot 70% van hul veeverkope oor Desember doen en daardie inkomste gaan verbeur weens die verbod. Boere het ook gesê hulle het geen vertroue in die regering om die siekte te keer nie. Mlengana het beloof dat die departement alle stappe sal doen om die verspreiding van die siekte te keer en volgens hom is die provinsiale polisie reeds genader om trokke met vee agterop van die pad te trek.

“Sou die siekte in die Vrystaat of enige ander provinsie uitbreek, is die bedryf regtig in die knyp. Mense in die veebedryf moet kies om nie tot die verdere verspreiding by te dra nie, want as hierdie saak in die howe beland weens siviele eise, gaan dit baie lank sloer,” het Vervoort gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button