Local newsNews

Kommer groot oor hantering van gevreesde siekte

Dié verbod het die vee- en wildbedryf in Limpopo, Gauteng, Noordwes en Mpumalanga op sy knieë gedwing.

Vier provinsies se veilingkrale staan voorlopig leeg nadat die departement van landbou, bosbou en vissery op Donderdag 14 November ’n verbod op lewende veeveilings geplaas het weens die jongste uitbraak van die gevreesde siekte bek-en-klouseer.

Dié verbod — wat teen druktyd nog nie in ’n provinsiale of nasionale Staatskoerant gepubliseer is nie — het die vee- en wildbedryf in Limpopo, Gauteng, Noordwes en Mpumalanga op sy knieë gedwing.

Die verbod is geplaas nadat die departement op Vrydag 1 November ’n geval van bek-en-klouseer in die Molemole-gebied, noord van Polokwane, bevestig het.

Bek-en-klouseer is ’n ernstige, hoogs aansteeklike virussiekte wat beeste, varke, skape, bokke en ander gesplete hoefdiere raak, maar geen invloed op mense het nie.

Tekens van die siekte sluit in lusteloosheid onder diere, sere in die bek en aan die hoewe, diere wat ongewillig is om te vreet en verlamming.

Volgens dr. Botlhe Modisane, woordvoerder van die departement, het die siekte intussen ook na vyf ander plekke in Limpopo versprei.

“Dit is na alle waarskynlikheid dieselfde soort virus wat ook in Januarie vanjaar uitgebreek het.”

Landbouers het in Januarie en Mei groot geskrik nadat die virus in die Vhembe-omgewing uitgebreek het en noodmaatreëls ingestel is. Geen diere kon in die gevaargebied uitgevoer of verkoop word nie.

Die regering het in Mei aangekondig dat die kwarantyntydperk verby was, maar ná die jongste uitbraak word talle vingers na die departement gewys wat na bewering nie die siekte onder beheer gebring het nie.

Jacques Smalle, provinsiale DA-leier, het in reaksie gesê die departement het in die 2018-2019 boekjaar ’n begroting van R55 971 000 gehad wat vir veeartsenydienste bedoel was om die siekte onder diere te bekamp.

Smalle beskuldig die regering daarvan dat hulle nie die bekamping en voorkoming van die siekte onder diere ernstig opgeneem het nie, al het hulle voldoende fondse daarvoor gehad.

“Inligting oor die nuutste uitbraak was reeds aan die departement bekend sedert 1 November, maar byna niks is gedoen om strenger maatreëls in die gevaarsones toe te pas nie. Hierdie is ’n ernstige terugslag vir boere in al vier provinsies wat nie meer hul vee kan verkoop nie. Duisende werkers kan ook as gevolg hiervan hul werk verloor.”

TLU SA, die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), Vleissentraal, André Kock en Seun, die Suider-Afrika Agri Inisiatief (SAAI), Agri SA, die DA, asook die VF-Plus is van mening dat die regering nie genoeg gedoen het tydens die aanvanklike uitbraak nie en dat die veebedryf nou die swaarste getref word.

Die feit dat geen veilings tot verdere kennisgewing in die vier provinsies mag plaasvind nie, is veral sorgwekkend.

“Die verbod op veilings oor so ’n groot gebied sal na ons mening nie ’n bydrae lewer om die probleem op te los nie, maar dit eerder vererger,” het Koos van der Ryst, RPO-voorsitter gesê.

Henk van de Graaff, TLU-voorsitter van die Noordstreek, het gesê die siekte kon nie op ’n slegter tyd kom nie omdat daar reeds erge droogte in die land heers.

“Verbruikers moet hulle daarop voorberei dat die prys van vleis drasties sal verhoog. Vleis sal baie skaars word.”

Paul van Vuuren, direkteur van André Kock en Seun in Bela-Bela, is veral bekommerd dat boere uit frustrasie hul vee, wat moontlik die siekte dra, steeds sal verkoop ten spyte van die verbod.

“Vee-eienaars moet steeds hul uitgawes dek. Mense moet eet. Daadwerklike optrede deur die regering is nodig om die krisis op te los. Alle betrokkenes in die bedryf sal moet hande vat en saamwerk om hierdie probleem die hoof te bied. Dit is ’n geweldige krisis met verreikende gevolge.”

Volgens hom het hy kort nadat die verbod aangekondig is sleepwaens en trokke met vee agterop op nasionale paaie in Limpopo opgemerk.

Van Vuuren, asook Anton Vos, besturende direkteur van Vleissentraal, is van mening dat amptenare dringend moet verhoed dat meer vee uit Limpopo vervoer word.

Die Pos verneem ook betroubaar dat ’n groep mense in die landboubedryf reeds besig is met regstappe teen die regering. Daar word onder meer gevra dat die verbod op veilings in al vier provinsies heroorweeg moet word en dat die regering eerder moet fokus op die spesifieke gebied in Limpopo wat besmet is.

“As mense doelbewus die regering gaan boikot deur te probeer om vee te verkoop of uit te voer, staar hulle groot siviele eise in die gesig,” het Vos gesê.

Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, het teen druktyd nie ’n aksieplan uitgereik nie.

  • ’n Noodvergadering is op Woensdag 20 November in Bela-Bela belê om die pad vorentoe met mense in die veebedryf te bespreek.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button