Man verdrink glo by oord
’n Man van Benoni het vermoedelik op Vrydag 22 November by die Pendleberry Grove-oord in Bela-Bela verdrink.

Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het gesê Mandla Mahlangu (32) het glo die betrokke dag ’n afsluitingsgeselligheid saam met vriende en kollegas by die oord bygewoon.
Sy vriende het hom in die oord se swembad gesien dryf en hom na die Warmbad-hospitaal gehaas, maar hy is glo by die hospitaal dood verklaar, het Maponya gesê.
Sarie Turner, bestuurslid van Pendleberry, het by navraag aan Die Pos gesê die voorval het almal by die oord getraumatiseer.
“Die groep mense wat saam met hom hier was, het baie rustig gekuier. Ons het op die veiligheidskameras gesien hoe hy (Mahlangu) nog een oomblik bo die water was en toe het hy skielik onverklaarbaar onder die water verdwyn. Dit was regtig ’n tragiese ongeluk,” het sy gesê.
“Ons wil ons innige simpatie met sy familie deel. Sy dood het ons almal diep getref,” het Turner gesê.
’n Nadoodse ondersoek word gedoen om die oorsaak van Mahlangu se dood te bepaal.