Verbod op veeveilings oor bek-en-klouseer duur voort
Veilingskrale in Limpopo, Gauteng, Noordwes en Mpumalanga staan vir die derde agtereenvolgende week dolleeg nadat ’n verbod op veeveilings geplaas is weens die die uitbraak van die siekte bek-en-klouseer.

Vervoer van vee in en vanuit dié provinsies is ook beperk, hoewel talle mense beweer dié beperking word glad nie deur owerhede toegepas of beheer nie.
Bek-en-klouseer is hoogs aansteeklik en raak diere met gesplete hoewe. Nie net die veebedryf word dus deur dié krisis geraak nie, maar ook die wildbedryf.
’n Noodvergadering is op Woensdag 20 November by André Kock & Seun se veilingkrale buite Bela-Bela gehou. Gemoedere het veral hoog geloop omdat talle mense die regering daarvan beskuldig dat hulle nie genoeg gedoen het om die eerste uitbraak in Januarie te beheer nie en stééds nie streng genoeg optree nie.
“Waar is die sogenaamde padblokkades?” wou talle mense weet.
Hoewel Michael Mlengana, direkteur-generaal van die departement van landbou, bosbou en visserye, op die noodvergadering beloof het dat die provinsiale polisie en sy departement sal toesien dat veevervoer beheer sal word, lyk dit nie asof dié planne ten volle in werking gestel is nie.
Die Pos het byvoorbeeld op Sondag 24 November ’n bakkie met ’n vrag vol beeste agterop op die R516-pad buite Bela-Bela gewaar. Die bakkie, met ’n Gauteng-nommerplaat, het met die vee in die rigting van die Bela-Bela-township verdwyn.
’n Bek-en-klouseerforum (BK-forum) is na afloop van die vergadering op die been gebring om, in samewerking met die regering, die beste moontlike stappe te doen om die siekte te beheer en te bekamp.
Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, het in ’n verklaring gesê die provinsiale tesourie wou nie geld bewillig om die siekte in die gevaargebied na behore te bekamp nie.
Smalle, asook Kathleen Lombard, kommunikasiebeampte van die BK-forum, het gesê meer as 20 000 diere is reeds met die siekte besmet.
Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement van landbou, kon nie die syfers bevestig nie.
Die feit dat die siekte aanhou versprei, is ’n enorme slag vir die ongeveer 91 562 veeboere net in Limpopo, meen Smalle.
“Die finansiële verlies kan miljarde rand beloop en sal langtermyngevlge hê wat werkverliese en die aanhoudende rehabilitasie van weivelde insluit. Die verlies per bees is na raming R3 500, wat stoet- en teeldiere uitsluit,” het hy gesê.
Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, het gesê die departement moet so gou moontlik sekere gebiede as veilig verklaar anders kan die veebedryf en die ekonomie heeltemal ineenstort.
“Om die probleem te vererger, het die departement ’n wesenlike tekort aan veeartse. Dit kan as een van die redes vir vanjaar se tweede uitbraak van bek-en-klouseer beskou word,” het sy gesê.
“Die voortdurende droogte in die provinsie het ook rampspoedige gevolge vir die landbougemeenskap wat ’n negatiewe uitwerking op voedselsekerheid, werkgeleenthede en ekonomiese groei in die provinsie het.”
Lombard het by navraag gesê hoewel vingers na die regering gewys word, moet produsente hul kant bring en saam met die regering die probleem help oplos.
“As ons nie protokol volg nie, sal elke bees in die land binne die volgende vyf maande besmet wees,” het sy gesê. “As daar nou veilings gehou word, kan die siekte verder versprei.”
Volgens die forum is daar sover slegs twee erkende slagpale wat magtiging het om diere te slag. Die slagting van vee vind op ’n beheerde wyse plaas, waarna die vleis ontbeen en die bene vernietig word.
“Selfs daardie slagpale is onder kwarantyn geplaas, want ons is in ’n noodsituasie en geen produk kan summier uitgevoer word nie,” het Lombard gesê.
Die forum sal eersdaags maatreëls uitreik van hoe produsente hul vee, trokke en veekrale moet steriliseer. ’n Klagtelyn sal ook op die been gebring word.
Lombard raai produsente aan om gebruik te maak van privaat- of staatsveeartse vir klaringsertifikate vir hul vee.
Ngcobo het teen druktyd geen verdere planne van aksie bekend gemaak nie.