Bly só veilig tydens beurtkrag
Die somervakansie lê voor die deur en so graag as wat ’n mens van jou sorge wil vergeet, laat misdadigers ons nie toe om heeltemal te ontspan nie.
Die afgelope week se beurtkrag bemoeilik dinge ook verder.
Inwoners wat op vakansie vertrek, bekommer hulle oor of hul alarmstelsel sal werk en wat as die vrieskaste die gees gee?
Eskom het teen druktyd vandeesweek voorsien dat beurtkrag die hele week soos ’n getroue vriend sou rondhang. Die invloed daarvan is diep gevoel met myne wat hul produksie moes staak en die kabelkarretjies op Tafelberg wat besoekers gestrand gelaat het. Gerugte dat die watertoevoer en selfoonseine ook in die slag gaan bly as die krag lank afbly, is ook versprei.
Kenners raai inwoners aan om hul veiligheidstelsels na te gaan voordat hulle met vakansie vertrek.
Die veiligheidsmaatskappy Fidelity ADT moedig huiseienaars aan om nie net hul alarms te toets nie, maar ook die batterystelsel wat intree wanneer die krag afgaan.
“Baie mense is onder die indruk dat hul alarms gedeaktiveer is wanneer die krag afgaan, maar as die stelsel korrek geprogrammeer en die battery in ’n goeie toestand is, sal die stelsel steeds die eiendom veilig hou,” het Charnel Hattingh, die maatskappy se kommunikasiebestuurder, gesê.
Wanneer die battery se krag laag is of daar ’n tegniese fout is, sal dit die alarm se funksie belemmer. “Die meeste moderne stelsels het ’n rugsteunbatterypak wat outomaties aktiveer as die krag afgaan,” het sy gesê.
Hattingh het inwoners aangeraai om ’n paar praktiese stappe te volg:
- Verseker dat die alarmstelsel ’n voldoende battery het. Gaan die batterye gereeld na.
- Die alarmstelsel moet tydens langdurige kragonderbrekings nagegaan word om seker te maak dat dit nog werk.
- Die kragonderbrekings kan ook ’n invloed hê op brandalarmstelsels en dit moet ook gereeld nagegaan word.
- Die toename in gebruik van kerse en gas verhoog die kans op brande. Hou ’n brandblusser byderhand.
- Wees waaksaam tydens kragonderbrekings en let op enige verdagte aktiwiteite en meld dit by ’n veiligheidsmaatskappy of die polisie aan.