Local newsNews

Hupstoot vir toerisme in Vaalwater

Die bemarking van Vaalwater as ’n toeristemekka het ’n groot hupstoot gekry sedert die stigting van Waterberg Tourism sowat vyf maande gelede.

Die organisasie se databasis bly groei, het John Bufton, ’n sakeman van die dorp wat die databasis ontwikkel het, gesê.

Volgens nog ’n plaaslike inwoner, Antoinette Swanevelder, wat Waterberg Tourim se sosiale media hanteer, is meer as 40% van die trefslae uit die buiteland afkomstig wat toon daar is ’n besliste belangstelling in die Waterberg.

’n Inligtingsentrum by die Zeederberg-sentrum in die dorp, hanteer meer as 200 navrae per maand, het Ken Maud van die organisasie gesê. As deel van die plan om die dorp te verfraai, het hulle reeds meer as 80 bome geplant. Daar is ook reeds meer as 16 opleidingskursusse aangebied om ondernemings in die gasvryheidsbedryf te help om hul personeel op te lei om toeriste te hanteer.

Vier nuwe ondernemings is op die been gebring wat help om werk te skep. Werkloosheid is ’n groot probleem in die gemeenskap.

Nic Callichy, nog ’n lid van die Vaalwater-gemeenskap, het die hulp van sy onderneming aangebied met die opruiming van ’n openbare park wat toegegroei was en in ’n seeroog ontaard het.

“Dit is opwindend om te sien hoe die gemeenskap bymekaar kom om dié poging te ondersteun,” het Dalene Vermaak, nog ’n inwoner, gesê.

Waterberg Tourism word deur die gemeenskap bestuur vir die beswil van die hele gemeenskap, het Maud gesê. Vir meer inligting bel Maud by tel. 082 324 2252 of stuur ’n e-pos aan kenmaud@waterbergtourism.com. Inwoners kan die organisasie ook op Facebook volg of hul webwerf by www.waterbergtourism.com besoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button