Liefdevolle kat bring troos vir bejaarde
“Dié tweetjies en Blommetjie gee hul liefde onvoorwaardelik en laat die ouetehuis meer na huis voel.”
’n Rondloperkat wat kuier-kuier by die Waterberg Residentia-aftreeoord in Modimolle se stoep opgedaag het, het die lewe van ’n bejaarde inwoner soos handomkeer verander.
Marie von Beneke (79) het haar oor die bont kat ontferm en haar Blommetjie gedoop. Dié goedgemanierde, liefdevolle kat het aandag en kos in oormaat ontvang en gereeld in Von Beneke se kamer gekuier.
Die inwoners vertel dat Von Beneke, ’n demensielyer, dikwels baie “kwaai” was, maar vandat sy en Blommetjie bymekaar is, het haar gemoedstoestand merkbaar verander. “Marie het so week soos ’n lammetjie geword,” vertel Evelyn Grobler wat gereeld vir haar man, Grobbie, in die tehuis gaan kuier.
Rina Edwards, Von Beneke se dogter, het aan Die Pos gesê: “My ma was nog altyd baie lief vir diere, maar het as kind laas ’n kat gehad. In haar latere lewe het sy honde gehad. Blommetjie doen haar só goed.”
Dit is egter nie die einde van die storie nie. Blommetjie se pens het al dikker gestaan en op ’n dag was daar twee klein babakatjies. Die inwoners het met die kat na die matrone se kantoor gehaas, want iets was duidelik fout.
“Blommetjie is inderhaas na die Kranskop-dierekliniek geneem. Die inwoners, haarkappers en besoekers by die ouetehuis het almal geld ingesamel sodat Blommetjie opgeneem kon word,” het Grobler vertel.
Blommetjie is met septisemia gediagnoseer en twee dooie katjies is uit haar verwyder. Sy was baie siek.
Intussen het matrone Alida Venter die twee oorlewende katjies met spesiale melk versorg en snags saam huis toe geneem terwyl Blommetjie herstel.
“Ons was so bly toe ons Blommetjie weer by die veearts kon gaan haal. Marie was baie bekommerd oor haar, maar was weer haar ou self toe haar kat terug is,” het Grobler gesê. Die twee katjies het dadelik begin drink en al drie katte is nou perdfris en gesond. “Ons is baie dankbaar teenoor die veearts wat gesê het dat hy Blommetjie gratis sou behandel.”
Von Beneke het met Die Pos se besoek gesê sy is baie bly haar twee “agterkleinkinders” is gesond. “Ek is so bly hulle is almal terug by my; ek het hulle baie lief.”
Die gesondheidsvoordele wat die aanhou van troeteldiere inhou, is wyd bekend. Om dié rede het die tehuis ook twee Jack Russell-hondjies genaamd (natuurlik) Jack en Russell.
Die twee vierbeeninwonertjies met hul ondeunde gesiggies is baie gewild onder die inwoners.
“Baie van die mense moet hul troeteldiere agterlaat wanneer hulle ouetehuis toe gaan. Dié tweetjies en Blommetjie gee hul liefde onvoorwaardelik en laat die ouetehuis meer na huis voel,” het Marlene Janse van Vuuren van die tehuis aan Die Pos gesê.