Verbod op veilings nou landwyd
Die verbod op veeveilings in Limpopo, Gauteng, Noordwes en Mpumalanga weens die uitbraak van bek-en-klouseer het nou landwyd uitgebrei.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het die uitbreiding van die verbod op Woensdag 4 Desember in die Staatskoerant bekendgemaak.
Ingevolge dié bepalings heers daar nou ’n verbod op die vervoer van vee vir handelsdoeleindes.
Vee moet 28 dae in een kraal gehou word — sonder nuwe toevoegings — en die produsente moet bewys lewer dat vee siektevry is. Klaringsertifikate van veeartse word vereis. Bek-en-klouseer het ’n inkubasietydperk van 28 dae.
Simptome sluit in neerslagtigheid onder diere, sere in die bek, diere wat onwillig is om te vreet en verlamming.
Veeverkope mag voortgaan, maar bewyse moet gelewer word dat die diere siektevry is, lui die bepaling.
Volgens Reggie Ngcobo, landbouwoordvoerder, is ’n versoek aan die Suid-Afrikaanse weermag gerig om die beweging van vee te moniteer en die polisie by te staan.
“Mense wat siek vee vervoer, kan siviel of strafregtelik vervolg word,” het hy gesê.
Vordering is intussen gemaak om die oorsprong van die uitbraak te bepaal. Daar is tot dusver 11 eiendomme geïdentifiseer waar die siekte uitgebreek het.
Volgens die departement het die siekte in die Molemole-gebied noord van Polokwane uitgebreek, waarna dit na die Capricorn-, Vhembe- en Mopani-gebiede versprei het.
’n Geskatte 14 000 stuks vee is deur die siekte geraak en streng kwarantynmaatreëls is ingestel. Selfs aangrensende plase van die geaffekteerde eiendomme word volgens die departement onder kwarantyn geplaas.
Dié beperkings sal eers gelig word sodra die betrokke eiendomme siektevry verklaar is. Die eienaars is ook die keuse gegee om van hul diere op ’n beheerde manier te slag.
Volgens inligting van die Bek-en-klouseer-forum (BK-forum) wat op Woensdag 20 November buite Bela-Bela gestig is, kan afslaers steeds verkope van gesonde vee fasiliteer, maar dit is tans ’n tydsame proses.
Produsente word intussen aangeraai om geen hoërisiko vee te vervoer nie, om slegs vee van betroubare bronne aan te koop en op wettige klaringsertifikate aan te dring.
Veiligheidsmaatreëls is beskikbaar op die nasionale dieregesondheidsforum se webtuiste by www.nahf.co.za(.)