Local newsNews
Wees maar versigtig met die vuurwerke
Dis prentjiemooi as vuurwerke die lug in skiet en duisende vonkies afsak grond toe.

Jongmense hou van die harde slae van klappers. Die polisie waarsku egter dat inwoners hul bure en wetgewing die vakansie in ag moet neem.
Die afskiet van vuurwerke het ’n vuurwarm besprekingspunt geword en die gewildheid daarvan het drasties afgeneem weens die verskrikking wat dit onder diere veroorsaak.
Dit hou ook die gevaar van ernstige brandwonde in vir diegene wat dit afskiet.
AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het riglyne verskaf aan inwoners wat wel besluit om vuurwerke af te vuur.
- Maak seker dat jy binne die bepaalde wetgewing van jou munisipale gebied vuurwerke mag afvuur.
- Dit moet altyd onder die toesig van ’n verantwoordelike volwassene gebeur.
- Lees die instruksies deeglik voordat vuurwerke gebruik word.
- Koop slegs vuurwerke met etikette wat aandui deur wie dit vervaardig is en duidelike aanwysings het in ’n taal wat jy verstaan. Daar is streng wetgewing oor die verkoop van vuurwerke waaraan verkopers moet voldoen.
- Dra katoenklere soos denims en ’n langmou hemp en toe skoene wanneer daar met vuurwerke gewerk word.
- Vuurwerke wat nie wou ontlont nie, moet nooit gestoor word nie. Dit moet vir 15 minute lank gelos word en dan vir ’n uur lank in ’n emmer met water gesit word. Daarna kan dit oopgebreek en weggegooi word.
- Wees baie versigtig wanneer vonkstokkies (“sparklers”) gebruik word. Dit brand teen meer as 650ºC en is verantwoordelik vir 46% van alle beserings met vuurwerke.
- Hou ’n veilige afstand van enige vuurwerke af.
- Ruim ná die tyd op en maak seker dat geen vuurwerke wat nie ontplof het nie, agtergelaat word nie.
- Gebruik die vuurwerke slegs soos wat deur die vervaardiger bedoel is. Moet dit nooit uitmekaar probeer haal nie.
- Hou altyd ’n noodhulptassie byderhand. Alle brandwonde bo die skouers moet as ernstig beskou word.
Alle ongelukke moet by die polisie aangemeld word, het Findlay gesê.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.