Local newsNews

Bruinhiëna snuffel tussen woonhuise rond

“Inwoners hoor saans die leeus by die dieretuin buite die dorp brul, maar die afgelope ruk het ons gereeld ook die getjank van ’n hiëna gehoor.”

Groot konsternasie het geheers nadat ’n onverwagte besoeker die afgelope vakansie in die Bela-Bela-woonbuurt gekuier het.

Jee Dee Cloete, sakeman van die dorp, het aan Die Pos vertel hy was kort voor Kersfees besig met aanbouings by sy eiendom op die hoek van Van der Merwe- en Malanstraat in Bela-Bela toe hy iets vreemds geruik het.

Hy het ’n groot vullishouer buite die eiendom vir die bourommel laat plaas, maar die houer het baie sterk na urine of iets dergliks geruik.

Hy het ondersoek ingestel en op Maandag 23 Desember na beeldopnames op sy veiligheidskamerastelsel begin kyk. Tot sy skok en verbasing het hy ’n baie vreemde gedierte, wat volgens hom soos ’n groot kat of ’n hond gelyk het, gesien wat op pad was na die vullishouer.

Nadat hy die beeldmateriaal met kenners by die Warmbad-dieretuin gedeel het, is daar vasgestel dat dit ’n wilde bruinhiëna is. Volgens die beeldopnames was die hiëna tussen middernag en 01:00 by die vullishouer.

“Inwoners hoor saans die leeus by die dieretuin buite die dorp brul, maar die afgelope ruk het ons gereeld ook die getjank van ’n hiëna gehoor. Dit het vir my geklink asof dié geluid nader aan die dorp was. Ek vermoed die hiëna bly in die verlate Royal Northlands-landgoed,” het Cloete gesê.

Hy is veral bekommerd dat die hiëna mense in die omgewing, veral klein kinders, kan aanval.

Kobus Pienaar, verteenwoordiger van die departement van omgewingsake (Ledet) in Modimolle, het by navraag gesê dit is nie ongewoon om saans bruinhiënas in dié geweste te sien nie.

“Bruinhiënas is nagdiere wat wyd verspreid voorkom en hulle geniet beskermde status. Hulle word as aasdiere erken en is geneig om in bewoonde gebiede deur mense se vullis te snuffel. Hulle kan tot 40 km per aand aflê en wanneer hulle iets ruik, sal hulle die spoor volg,” het Pienaar gesê.

“Hulle is nie geneig om mense aan te val nie. Hondsdolheid kan egter hul gedrag verander. Dit beteken dat hulle kleiner diere en selfs mense kan aanval.”

Sy raad aan inwoners is om hul vullis op veilige plekke te stoor. Pienaar raai inwoners aan om nie die dier te konfronteer of te skiet nie, maar om die departement dadelik te kontak indien hulle die hiëna gewaar.

Bel vir Pienaar by tel. 082 809 8875 of die departement by tel. (014) 717 3567.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button