Grondonteiening: Insprake tot einde Januarie
Die vrees dat wysigings nie net tot landbougrond beperk is nie, is steeds op almal se lippe.
Grondeienaars het nog net twee weke tyd om inspraak te lewer tot die omstrede wysiging van artikel 25 van die grondwet wat oor grondonteiening sonder vergoeding handel.
Dit sal die 18de keer wees dat die regering ’n poging aanwend om dié bepaling van die grondwet te wysig.
Die beoogde konsep is op Vrydag 13 Desember in die staatskoerant gepubliseer.
Parlementslede het op Saterdag 4 Desember ’n vergadering gehou waartydens gevra is dat die fyner detail van dié omstrede wysiging gestipuleer word.
Die vrees dat wysigings nie net tot landbougrond beperk is nie, is steeds op almal se lippe.
Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het in reaksie gesê dié wysiging kan lei tot die afgradering van die land se kredietgradering tot rommelstatus. Hy het gesê dít sal op sy beurt daartoe lei dat openbare ondernemings in Westerse lande, wat die Europese unie en Amerika insluit, verplig sal word om hul beleggings uit die land te onttrek.
Mills meen die wysiging sal teenstrydig wees met die universele verdrag van menseregte van die verenigde nasies, die Afrikagroei- en geleentheidsbeleid (AGOA), asook die algemene stelsel van voorkeure (GSP) van Amerika. Dit sal volgens hom Suid-Afrikaners se menseregte beperk en hulp en voordele uit die buiteland laat opdroog.
Die komitee oor die proses het belanghebbendes tot Vrydag 31 Januarie geleentheid gegee om vertoë of inspraak te lewer oor die wetsontwerp. AfriForum het reeds in Desember met sy eie veldtog begin om insae tot die wetsontwerp te bekom.
Mills, asook Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, doen ’n beroep op landsburgers om aan die proses deel te neem aangesien die insae voor die parlement sal dien.
Insae moet per e-pos gerig word aan Vhonani Ramaano, sekretaris van die parlementêre komitee, by section25@parliament.gov.za(.)