Kommer oor toesig ná talle kinders die vakansie verdrink
Die verdrinking van kinders lei dikwels gedurende somervakansies tot groot hartseer vir die betrokke gesinne en dié vakansie was geen uitsondering nie.

Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het aan Die Pos gesê die polisie is die afgelope vakansie vyf keer uitgeroep na tonele waar mense, waarvan vier kinders was, verdrink het.
Die eerste voorval het einde November plaasgevind nadat ’n man van Benoni onder vreemde omstandighede by die Pendleberry Grove-swembad in Bela-Bela verdrink het. Die man was saam met kollegas in Bela-Bela vir ’n wegbreeknaweek.
Kort daarna het ’n kind by ’n lodge in die Vogelstruispan-omgewing verdrink en twee ander kinders by ’n privaat woning se swembad in Roodekuil. Nog ’n kind, wat skaars 10 maande oud was, is in Zuma View in die Bela-Bela township dood aangetref nadat hy glo in ’n emmer water geval en verdrink het, het Maponya gesê.
Die families se inligting is nie bekend gemaak nie.
Maponya het gesê in van dié gevalle word ’n mate van nalatigheid vermoed omdat ouers en toesighouers nie voortdurend geweet het waar hul kinders is nie. ’n Gebrek aan toesig lei dikwels tot kinders wat beseer word, het hy gesê. Al dié sake word ondersoek.
Kapt. Annemarie Smith, speurtakhoof, het gesê: “Die polisie kla nie net mense sonder rede aan nie. Ons stel eers ondersoek in en stuur die inligting vir beslissing na die landdroshof. Die hof bepaal dan of die betrokke ouer of toesighouer nalatig was en of die toesighouer aangekla moet word of nie.”
“In die meeste gevalle kom dit neer op ’n aanklag van strafbare manslag waarvan die maksimum vonnis tot 15 jaar tronkstraf kan wees.”
Maponya raai ouers aan om hul kinders nooit sonder toesig te laat nie, veral wanneer die kinders jonk is.
- Minder ernstige voorvalle soos diefstal, aanranding en algemene roof is in die Bela-Bela-omgewing aangemeld.
Volgens inligting van die gemeenskappolisiëringsforum het van die sake in die Bela-Bela township, die dorp se sentrale sakesektor, Spa Park, Noodhulp, Roodepoort, Tweefontein, Masakhane, Tsakane, asook die Zwartkloof en Mabalingwe-gebied, plaasgevind.
Operasie Veiliger Feesseisoen het die polisie en betrokke owerhede laat fokus op plekke waar misdaad kan voorkom soos kroeë of tavernes, het Maponya gesê.
“Geen erge misdaad soos moord, sterftes weens voertuigongelukke of gewapende roof het in ons omgewing plaasgevind nie,” het hy gesê.
“Ons is wel bekommerd oor die verskynsel dat honde die afgelope tyd in die Settlers-omgewing vergiftig is en inbrake daarna plaasgevind het. Boere moet veral waaksaam wees, want ons vermoed dat buitelanders betrokke is.”
Die polisie het al gevind dat talle onwettige immigrante in dié gebied woon en raai boere aan om nie werkers sonder wettige dokumente in diens te neem nie.