Luister as jou lyf met jou praat
Die konsep van oefening en dieet klink maklik, maar om ’n werkbare program te kry vir elke individu is ’n kuns.

Daarom moet mense introspeksie doen, hul sterk- en swakpunte verstaan en hul motivering om tot aksie oor te gaan, afstof en vroeg in die nuwe jaar reeds begin werk aan ’n gesonder, slanker, fietser en fikser jy.
Die Pos het by Joan Terblanche, Amentz-instrukteur van Bela-Bela, gaan kuier. Sy bied oefenprogramme aan wat help om mense se leefstyl te verander, oortollige gewig te verloor en stres teë te werk.
“Die oomblik wanneer mense se liggame stres ervaar, bepaal die brein dat die liggaam vet moet stoor. Dit is nooit wys om kitsoplossings te soek nie.”
Daar is verskillende soorte liggaamtipes wat volgens die Amentz-stelsel bestaan: deurbrekers (doelgerigte persone), dromers (mense wat oor ’n doel droom), versorgers (verpleegsters, onderwysers) en kommunikeerders (mense wat maklik uiting deur hul woorde gee). Elke tipe se eet- en oefengewoontes is uniek, verduidelik Terblanche.
“Deurbrekers is hoogs gefokus op hul take, is nie geneig om vleis te eet nie en verkies vrugte of stysel. Dromers se eetgewoontes is min of meer dieselfde as deurbrekers s’n, maar meestal eet hulle saans groot porsies. Versorgers eet kleiner porsies deur die dag en kommunikeerders is weer vleiseters,” het sy gesê.
Wanneer mense gewig aansit weens stres is deurbrekers geneig om in hul nek, skouers en bo-rug gewig aan te sit, maar dromers in hul onderlywe. Versorgers word breër in die onderlyf en kommunikeerders tel oor hul hele lyf gewig op.
“Amentz is nie ontwikkel om die liggaam te bou nie, maar om die liggaam definisie te gee deur oefeninge wat vir elke tipe bepaal word. Elke liggaamstipe moet verskillende oefening doen wat by hul liggame pas, want sekere oefeninge en sportsoorte wat vir een persoon goed en lekker is, veroorsaak stres vir ander liggaamtipes,” het Terblanche gesê.
Die normale tekens van mense wat nie in voeling is met hoe hul liggame funksioneer nie, is gewigsprobleme en buierigheid.
Sy leer mense om hul eie liggaamsgewig te gebruik wanneer hulle stap, hardloop of hurk en beveel ook aan dat ’n mens deur jou neus asemhaal.
“Elke spier in die liggaam moet geoefen word en mense se swakhede moet uitgedaag word.
Slaappatrone is ook belangrik vir elke tipe.
Terblanche het gesê dat deurbrekers tussen sewe tot agt ure slaap nodig het, dromers tussen agt tot nege uur, versorgers tussen vier en vyf uur en kommunikeerders tussen nege en tien uur.
Mense wat hul liggame afskeep, sal ná 35 reeds agterkom dat hul spiermassa krimp en dat veroudering vinniger intree.
“Die doel van dié spesifieke oefenprogramme is om die persoon se dominante hormone te stimuleer sodat hulle op optimale vlak kan funksioneer.
“Ek het al gevind dat mense wat die regte leefstyl vir hul liggame — van dieet, oefening tot slaap — aanvaar, se kanse om siek te word werklik baie minder is as normale mense,” het sy gesê.