Landbank se rommelstatus is maar net die begin van uitdagings
Die afgradering van die Landbank se kredietgradering na rommelstatus deur die kredietgradeerder, Moody’s, is maar net die begin van finansiële uitdagings wat die landboubedryf vanjaar verder gaan knou, meen Louis Meintjies, president van TLU SA.
Moody’s het op Dinsdag 21 Januarie die afgradering bekendgemaak. Dit is die eerste keer dat ’n staatsbeheerde onderneming in Suid-Afrika hierdie status opgelê is.
Rebecca Phalatse, Landbank-woordvoerder, het in reaksie op Die Pos se navraag gesê dat Moody’s gefokus het op stygende kredietrisiko’s, dalende kapitaal, lae verdienste-vermoë, die uitdagende sake-omgewing (soos droogte) en beleidsonsekerheid (onteiening sonder vergoeding) wat alles as sleutelfaktore bygedra het tot die afgradering. Die feit dat die Landbank steeds nie ’n hoof uitvoerende beampte aangestel het nie, was ook ’n faktor, het Phalatse gesê.
Weens Suid-Afrika se ongunstige fiskale vooruitsig sal hierdie status die regering nou dwing om meer selektief te wees in die staatsbeheerde ondernemings waarin staatsgeld belê word, het sy gesê.
Die groot vraagstuk is of boere wat lenings by die bank het nou meer rente sal moet opdok weens die afgradering.
Volgens Meintjies raak dit voortdurend moeiliker om ’n positiewe gesindheid oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika te behou. Boere gaan gebuk onder die kommer van plaasveiligheid, onredelike arbeidswette, veesiektes, droogte, beperkte uitvoergeleenthede weens swak ekonomiese toestande en die meerderheid boere is reeds vir etlike jare in die skuld by die Landbank.
“Dit gaan vir die bank nou duurder word om sake te doen omdat die bank van ander bronne van inkomste afhanklik is. Weens die afgradering sal die Landbank nou meer moet betaal vir hul inkomste wat sal lei tot ’n verhoging in die rentekoers vir hulle kliënte,” het hy gesê.
Annette Steyn, skaduminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het in ’n verklaring gesê die DA is nie verras deur die afgradering nie.
Sy sê die DA is in die proses om meer inligting te bekom oor die R3,9 miljard wat president Cyril Ramaphosa tydens sy toespraak by die onlangse ANC-Lekgotla aan die Landbank bewillig het vir die 2019/20 boekjaar.
“Die regering moet daarop let dat die afgradering van die Landbank nie net die skuld is van die voortslepende droogte nie, maar dat dit ’n aanduiding is dat die Landbank nie vooruit beplan het nie dat die bestuur misluk het en die aanhoudende herleiding van fondse wat bedoel is vir opkomende boere, in die sakke van politici eindig,” het Steyn gesê.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder by TLU SA, het by navraag gesê dit is moeilik om te sê wat die Landbank nou gaan doen met bestaande en nuwe kliënte.
“Dit is nou ’n werklikheid dat die Landbank voortaan geld eers baie duur sal moet bekom voordat hul dit aan hul kliënte kan bied. Die leningsooreenkoms met sy kliënte sal bepalend wees oor hoe die rente bereken en of aangepas sal word,” het Van Zyl gesê.
Phalatsi het gesê die bank sien homself steeds as ’n rolspeler in die landboubedryf met sy markaandeel van 28%, wat ’n fraksie is van die land se totale landbouskuld. Dit is die bank se doelwit om alle uitdagings wat die bank tans kortwiek, reg te stel, het sy gesê.
Meintjes meen die afgradering van die Landbank is maar net die begin van afgraderings van verskeie staatsentiteite, en uiteindelik die land self, wat nog gaan plaasvind.