Local newsNews

AfriForum verf strepe in Mookgophong-strate

Die AfriForum-tak in Mookgophong het, in samewerking met die hoofkantoor van dié burgerregteorganisasie, besluit om meer betrokke te wees in die dorp en hulle veral toe te spits op veiligheid.

Lede het op Dinsdag 20 Oktober veiligheidsstrepe by die voetgangeroorgange by Laerskool Eugène N. Marais geverf om die veiligheid van leerders te verseker.

Magdel Strauss, streekverteenwoordiger van gemeenskapsake by AfriForum, het aan Die Pos gesê dié projek vorm deel van die organisasie se “Ons Dorp-projek” wat jaarliks aangebied word.

Hulle lê veral klem op die netheid van dorpe en help met die opruim van onooglike vullis, maar bevorder ook bewusmaking van ’n skoon omgewing.

“Inwoners moet saamstaan en eienaarskap van hul dorpe neem,” het sy gesê.

Sy het gesê sy is baie opgewonde oor die Naboomspruit-tak se betrokkenheid by munisipale kwessies en die manier hoe hulle die gemeenskap ondersteun. Andries Opperman, veiligheidsverteenwoordiger in die streek, het ook hand bygesit en gesê hy is opgewonde oor die samewerking in die Mookgophong-gemeenskap.

Philip van Staden is die takvoorsitter en speel ’n reuserol wat dienslewering en veiligheidskwessies in die dorp en omgewing betref.

Related Articles

Back to top button