Polisie en boere praat oor samewerking
Hooggeplaaste polisiebeamptes en lede uit die boerderygemeenskap in die Waterberg het op Donderdag 22 Oktober by Castle de Wildt buite Modimolle vergader om plaasveiligheid te bespreek.

“Ons wil nie hê dat hier ’n Senekal-gebeurtenis in ons provinsie afspeel nie en daarom het ek gevra om met die boerderygemeenskap te vergader,” het genl.maj. Jan Scheepers, provinsiale polisiekommissaris van sigbare polisiëring, gesê, “Dit is belangrik dat ons almal saamwerk.”
Die klem van die vergadering was dat die polisie en boere ’n verenigde front teen misdaad moet vorm indien hulle misdadigers wil stuit. Genl.maj. Rosina Mulaudzi, kol. Martin van Staden, asook Douw Pelser en Steven Vermaak van die landelike veiligheid-taakspan en Gerhard Visser van die Waterberg-landelike veiligheidspan, was ook teenwoordig.
“Ons het verhoudings met die polisie en organisasies soos die Fire Prevention Association (FPA) verstewig om saam as ’n span te werk. Ons het ’n gemeenskaplike vyand,” het hy gesê. “Ons is die oë en ore van die gereg. Ons moet ons eie ego opsyskuif en saamwerk,” het Scheepers gesê.
Scheepers het ’n begeesterde pleidooi vir samewerking gelewer.
“Elke keer as daar ’n aanval in ons gebied is, voel ek asof ek gefaal het. Kriminele is suksesvol omdat ons verdeeld is. Ons kan nie aanhou om so in vrees te leef nie. Ons moet seker maak dat ons positiewe stemme gehoor word. As ons aanhoudend negatief is, smoor ons die jonger geslag se drome vir die toekoms. Hulle wil nie meer boer nie. Ons moet dink aan die emosionele impak wat ons negatiwiteit op hulle het,” het hy gesê. “Sonder die boer is daar geen pap óf braai nie.”
Hy het benadruk dat sterk leierskap nodig is en dat boere nie die landelike veiligheidsplanne slegs in die hande van die polisie moet laat nie.
“Ek het verteenwoordigers van die boere nodig. Ons het kontinuïteit nodig, want polisiebeampte kan verplaas word,” het hy gesê.
Verteenwoordigers van boerderye van so ver as Tolwe, Sterkrivier, Thabazimbi, Bela-Bela, Mookgophong, Groblersdal en Matlabas het vrae geopper.
Die vergadering het met tye heftig geraak toe van die boere antwoorde wou hê op vrae soos die hoeveelheid voertuie wat die polisie beskikbaar het om plase te bedien en hoekom lede van die EFF nie aangekeer word op klagtes van aanhitsing tot geweld nie.
Van die boere wou weet hoe kriminele elemente in die polisie hanteer word en hoekom hulle geen terugvoer kry wanneer hulle sake aanmeld nie. Iemand wou weet waarom daar nie meer reserviste vanuit die boerderygemeenskappe aangestel word om die polisie se hand te versterk nie.
Scheepers het boere ontmoedig om reg in eie hande te neem. “As julle nie binne 14 dae terugvoer ontvang oor ’n saak nie, neem dit verder.
“Limpopo is ver voor ander provinsies wat hul landelike veiligheidsplanne betref. Sodra ons saam met die boerderygemeenskappe begin werk, sien ons ’n afname in misdaad.”