Local newsNews

Regering en toerismesektor stamp koppe

Die toerismebedryf is een van die bedrywe wat vanjaar die swaarste getref is deur die Covid-19-inperkingsmaatreëls.

Die Pos het op Woensdag 21 Oktober ’n werkwinkel van die Waterberg-distrikmunisipaliteit by Forever Resorts in Bela-Bela bygewoon waar rolspelers vergader het om ’n herstelplan vir dié bedryf in die Waterberg-omgewing te bespreek.

Dit was van meet af duidelik dat regeringsamptenare steeds gefokus is op die Covid-19-pandemie terwyl rolspelers in die industrie wil fokus op die herstel en uitbou van die bedryf te midde van die uitdagings.

Hoewel aansoeke vir regeringshulp reeds gesluit het, is daar op die vergadering gesê die departement van plaaslike ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme (Ledet) sal steeds laataansoeke verwerk. Sindiiwe Shezi van Ledet het statistieke voorgehou wat dui op die rampspoedige uitwerking wat Covid-19-inperkings op die bedryf in Limpopo gehad het.

Volgens Shezi is sommige lodges, gaste- huise, toeroperateurs, wildreservate en vakansieoorde se aansoeke vir regeringshulp eers laat verwerk omdat hulle nie op die departement van toerisme se databasis gelys was toe die kennisgewing vir aansoeke vroeër vanjaar uitgestuur is nie.

Aansoeke was ook in sommige gevalle onvolledig of het nie aan al die vereistes voldoen nie. Volgens Shezi het altesame 294 instansies in die provinsie teen Mei vanjaar ’n reddingspakket van die nasionale departement van toerisme ontvang.

Hoewel die bedryf reeds die groen lig gekry het om besoekers te ontvang, moet hulle steeds aan streng voorsorgmaatreëls voldoen wat beteken dat getalle beperk word. Internasionale reisigers word nou weer onder streng voorwaardes in die provinsie toegelaat.

Die hoërisikolande is volgens die departement van binnelandse sake Argentinië, Peru, Bangladesj, Indië, die Filippyne, België, Indonesië, Rusland, Brasilië, Iran, Spanje, Kanada, Engeland, Chilé, Italië, die Verenigde State, Colombia, Meksiko, Frankryk en Nederland. Syd Catton, verteenwoordiger van die Waterberg Toerisme-organisasie, het in reaksie gesê plaaslike ondernemings moet op die bestaande binnelandse mark fokus en pakkette uitwerk wat vir hierdie toeriste aanloklik is.

Ken Maud, voorsitter van Waterberg Toerisme, het gesê plaaslike munisipaliteite het geen begroting vir distrikhulp of ekonomiese ontwikkeling nie en plaaslike toerismekantore of erkende forums ontvang dus geen ondersteuning of hulp van die regering nie.

Riaan Maritz van Grow Bela-Bela Tourism het beklemtoon dat die kommunikasiegaping tussen die regering en die privaat sektor al groter word.

Hy het geëis dat ’n ooreenkoms tussen privaat- en regeringsverteenwoordigers gesluit word wat voorsiening maak daarvoor dat alle rolspelers hul verantwoordelikheid ten op sigte van die toerismebedryf aanvaar.

Dr. Musitha Mavhungu van Limpopo-toerisme het amptenare gekritiseer wat “voordele geniet tydens die grendeltydperk terwyl die toerismebedryf doodgebloei het”.

“Sedert die grendeltydperk ingetree het, het elke amptenaar sy of haar volle salaris gekry terwyl mense in die privaat sektor een vir een afgedank is. Ons moet vasstel of ons permanente plaaslike ekonomiese ontwikkeling-, toerisme-, finansiële- of ander verteenwoordigers beskikbaar het om die bal aan die rol te hou, maar rolspelers sal eers hul houding oor die pad vorentoe moet verander,” het hy gesê.

Die vergadering het besluit bykomende regeringshulp word benodig en ’n klemverskuiwing na binnelandse toerisme is dringend nodig.

Databasisse moet opgedateer word en daar word van regeringsamptenare verwag om herstelplanne te ondersteun. Die finale herstelplan vir die provinsie sal waarskynlik teen einde November uitgereik word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button