Home/News/Local news/Geite en giere… Local newsNews Geite en giere… Wat gebeur in- en om die Waterberg? November 9, 2020 Die Pos-span / The Post team Less than a minute Facebook X LinkedIn Tumblr Pinterest WhatsApp Telegram Share via Email Print Besoekers en eienaars van die Bosveld Mall in Bela-Bela trek moedeloos hul neuse op wanneer hulle verby die groot vullishouers beweeg. Dié houers loop oor van vullis en die omgewing lê besaai met rommel. Marnus Luüs, sentrumbestuurder, kla dat die munisipaliteit al weke lank nie die vullis verwyder nie. Inwoners het intussen ook begin om onwettig hul huishoudelike vullis op die perseel te stort wat alles bydra tot die onhigiëniese toestand. Die sentrum betaal getrou hul munisipale heffings waarby vullisverwydering ingesluit is, het hy gesê. Die Pos het Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, oor die probleem ingelig, maar hy het teen druktyd geen kommentaar gelewer nie. Daar is hopelik goeie nuus vir inwoners van Bela-Bela wat reeds maande gelede aansoek gedoen het vir bestuurderslisensies. Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het aan Die Pos gesê mense wat tussen November 2019 en Maart vanjaar vir hernuwing van bestuurderslisensies aansoek gedoen het, kan die lisensies gaan afhaal. Mense wat tussen April en Junie aansoek gedoen het, sal egter nog geduldig moet wees aangesien die aansoeke nog nie afgehandel is nie. Mense wat van Julie tot September vanjaar aansoek gedoen het, se nuwe lisensies is volgens hom “moontlik” ook by die kantoor in Van der Merwestraat beskikbaar. Mosito kon nie die verkeersafdeling se direkte telefoonnommer verskaf sodat inwoners kan bevestig of hul lisensies daar is of nie. Hy het gesê inwoners moet maar in die tou val om hul lisensie af te haal. Die Pos is die afgelope jaar oorval met klagtes van gebrekkige dienslewering by die Bela-Bela-verkeersafdeling. Ag nee, sies! Die aanhoudende waterlek op die hoek van Reitzstraat en Mentzlaan in Bela-Bela het inwoners moedeloos. Die waterlek het in 2019 ontstaan en die munisipaliteit is al herhaalde kere in kennis gestel van die duisende liters water wat daar verlore gaan. Die Pos het self op verskeie geleenthede berig oor die waterlek en dit onder die aandag van amptenare gebring. Hoewel munisipale werkers dikwels op die terrein opgemerk word, is die lekplek nog nie herstel nie. Die munisipale bestuur sou dié week op ’n inspeksietoer deur die dorp gaan om ernstige diensleweringsprobleme te ondersoek. Op die foto sit inwoner Braam van Wyk by die poel water inReitzstraat waarna hy skertsend as ’n visvangdam verwys. Die harte van die Bela-Bela-gemeenskap is geraak deur die pleidooi van boere elders in die land wat reuseverliese gely het weens vernietigende wegholveldbrande. Organisasies soos AfriForum en TLU SA het hande met privaat weldoeners gevat om skenkings aan dié boere, hul gesinne en werkers te maak. In Bela-Bela was die NG Moedergemeente se kerksaal ’n miernes van bedrywigheid en het helpers meer as 200 bokse vol kos, klere, toiletware en ander noodsaaklikhede verpak om na die Vrystaat en Noordwes te stuur. Peet se Padstal op die Thabazimbi-pad buite die dorp het ook as versamelpunt vir skenkings gedien. Op die foto staan Elize Mostert, organiseerder, in die kerksaal by ’n aantal van die bokse. Vir navrae oor bydraes bel vir Mostert by tel. 082 393 8330 of vir Hettie Pretorius van Peet se Padstal by tel. 082 928 4913. Die Waterberg juig oor die reën wat die afgelope week geval het. Inwoners van Vaalwater en omgewing het op Dinsdag 3 November vroegoggend tussen 40 mm en 50 mm gemeet. Die hoofstraat het vir ’n ruk soos ’n rivier gelyk, soos wat dié foto wat op sosiale media verskyn het, aandui. Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, woon in Vaalwater. Sy het gesê daar het die vorige dag ook 20 mm geval. “Ons het al 170 mm vir die seisoen gehad,” het sy gesê. Foto: Reënval In SA/Ronel Barnard At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading! Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here. November 9, 2020 Die Pos-span / The Post team Less than a minute Facebook X LinkedIn Tumblr Pinterest WhatsApp Telegram Share via Email Print