Local newsNews

Lank lewe die LIEFDE!

Met Valentynsdag om die draai het Die Pos inwoners in ons omgewing, wat meer as 50 jaar getroud is, gevra om hul stories met ons te deel.

Die reaksie was oorweldigend en ons telefoonlyne het behoorlik gegons. Ons deel graag ’n paar staaltjies en troufoto’s uit toeka se dae. Sarita Kriek-Vosloo van ons Modimolle-kantoor, het met dié lesers gesels.

Henk en Susie Wilcocks is op 1 Desember 1951 in Johannesburg getroud en is dus vanjaar 70 jaar getroud. Susie het aan Die Pos vertel: “Ek het op 16-jarige ouderdom begin werk en elke dag die trem na die Johannesburgse middestad geneem. Ek het dié aantreklike jong man gesien wat elke middag om 16:15 dieselfde trem as ek geneem het. Hy was voor op die wa en het begin geselsies aanknoop. Later het hy elke middag by my halte afgeklim om saam met my huis toe te stap. Hy moes daarna nog ’n lang ent stap voordat hy by sy blyplek was. Die vriendskap het gegroei, en ons het in Desember 1950 verloof geraak en ons is ‘n jaar later — toe ek 18 en Henk 21 jaar oud was — getroud.” Die Wilcocks egpaar is geseën met drie kinders, ses kleinkinders en ses agterkleinkinders. Hulle woon die afgelope 30 jaar in die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle.

 

Leon en Anna Rossouw was albei onderwysers en is op 28 Maart 1959 in Springs getroud. Hul vier eersdaags hul 62ste huweliksherdenking. Anna vertel hoe hulle, danksy die “inmenging van ’n vindingryke vriendin,” nie anders kon as om verlief te raak nie. “Ek het destyds begin skoolhou by dieselfde laerskool waar Leon se pa net die jaar tevore as skoolhoof afgetree het. Leon se jongste broer was toevallig in my st. 5 (deesdae gr. 7)- klas. Leon was ’n onderwyser by Hoërskool Springs, maar ons paaie het gereeld by skoolgesellighede gekruis. Ons het selfs die rol van man en vrou tydens ‘n opvoering van Racheltjie de Beer vertolk — natuurlik danksy my vriendin se gekonkel!” Hulle is kort daarna getroud toe Anna 25 en Leon 26 was. “Ons het twee wonderlike kinders aangeneem en is geseën met vier kleinkinders.” Die egpaar woon die afgelope 22 jaar in die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle.

 

Gawie en Heilie Richter is op 21 Maart 1959 in Rustenburg getroud en vier vanjaar hul 62ste huweliksherdenking. Heilie het vertel dat hulle mekaar al 80 jaar (sedert haar geboorte) ken. “Ons ouers was vriende en toe almal kom kuier het om die nuwe baba te sien, het Gawie, op 8-jarige ouderdom verklaar dat ek eendag sy vrou gaan wees. Ons was saam in ’n plaasskool, hoewel hy in st. 6 (deesdae gr. 8) was en ek in gr. 1. Gawie het op 18 by die polisie aangesluit en ná 42 jaar afgetree. Hy het daarna 20 jaar lank naby Swartruggens geboer. Die Richters woon sedert 2003 in die Bosveldsig- aftreeoord in Modimolle. Hulle het drie kinders, sewe kleinkinders en sewe agterkleinkinders.

 

Jakkie en Jenny van Dyk se bruilof op 2 Oktober 1965 in De Aar het gesorg vir heelwat konsternasie. Jakkie het aan Die Pos vertel hoe ‘n “tegniese fout” amper ‘n familieskandaal veroorsaak het. “Ek en Jenny het destyds ‘n baie klein troue in ons kerk se konsistorie gehou. Ons predikant was met vakansie en ‘n emeritusleraar het ingestaan om die huwelikseremonie te behartig. Ná die bruilof het ons na Aliwal-Noord vertrek vir ons wittebrood, maar my nuwe vroutjie was glad nie beïndruk met die eenvoudige rondawel nie en ons is ná slegs drie dae huis toe. Ongeveer vyf maande ná ons troue, is ons deur ons predikant ingeroep en meegedeel dat ons nie amptelik getroud is nie. Om alles te kroon, was Jenny toe reeds amper vyf maande swanger. Ons het tot ons skok uitgevind dat die emeritusleraar nooit die huwelik by die departement van binnelandse sake geregistreer het nie. Ons is toe maar stil-stil weer getroud — dié keer darem amptelik op 15 Maart 1966. Ons eerstelingdogter is kort daarna op 27 Julie gebore.”

 

Daniël (beter bekend as Vis) en Jane Visagie van Modimolle vier op Dinsdag 29 Junie hul 64ste huweliksherdenking. Jane was skaars 14 jaar oud toe Vis haar gevra het om te “kys”. Hulle is ses jaar later in Roodepoort getroud. Die egpaar is geseën met drie kinders, ses kleinkinders en drie agterkleinkinders.

 

Ray en Janet Lane het op Sondag 10 Januarie hul 62ste huwe_likherdenking in die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle gevier waar hulle die afgelope 22 jaar woon.

 

Gerrie en Annette Kotzé vier op Vrydag 23 Julie hul 61ste huweliksherdenking. Hulle het met skape in die Vrystaat geboer en 20 jaar gelede na die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle verhuis. Die egpaar het drie kinders, vier kleinkinders en twee agterkleinkinders.

 

Jako en Marthie Fouché is op 31 Desember 1960 in Randfontein getroud. Hulle woon sedert 1993 in Mookgophong.

 

Eben en Tienie Erasmus is op 2 Augustus 1968 in Brakpan getroud. Hulle het hul in April 1974 in Modimolle gevestig en hul eie onderneming, Ster Radio, geopen. Dit was die eerste M-Net agentskap in die laat jare tagtig in die dorp. Ster Radio was een van Die Pos-koerant se heel eerste adverteerders. Die onderneming word tans deur hul dogter bestuur. Die meeste van hul mooi troufoto’s is jare gelede in ’n brand verwoes, maar dié een het behoue gebly.

 

Die Waterbergers Jac en Marietjie de Wet was albei onderwysers en het oorspronklik by Hoërskool Nylstroom ontmoet. Hulle is in die NG Kerk Waterberg-gemeente in Modimolle getroud. Die egpaar het 30 jaar in die Vaaldriehoek gewoon en gewerk en met hul aftrede in 2001 na die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle verhuis.

 

Floors en Dina Steenkamp is op 3 April 1965 getroud. Hulle woon in die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle en beoog om vanjaar hul 56ste huwelikherdenking saam met familie en vriende te vier.

 

Dié oudleerkragte van Susan Strijdomskool in Modimolle, Mike en Hester Schimper, is op 23 Desember 1965 ge-troud en woon sedert 1972 in Modimolle.

 

Manie en Hattie du Preez is op 6 Mei 1967 in Kempton Park getroud. Hulle woon al meer as 30 jaar op ’n kleinhoewe buite Modimolle.

 

Die huweliksklokke het op 10 Desember 1966 vir Hoffie en Rika Hoffman in Derby (in die ou Wes-Transvaal) gelui. Hulle woon die afgelope 12 jaar in die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle.

 

Jaap en Griet Bronkhorst is op 8 Oktober 1966 in Tzaneen getroud. Hulle woon die afgelope 26 jaar in Vaalwater.

 

Frans en Ina Smit vier vanjaar op 8 Maart hul 52ste huwelikherdenking. Hulle woon al 21 jaar op Modimolle.

 

Henry en Ria Daneel, inwoners van die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle, het op Donderdag 7 Januarie hul 54ste huweliksherdenking gevier.

 

Pieter en Wilna Ras is albei van Krugersdorp en ken mekaar reeds die afgelope 60 jaar. Hulle is op 14 September 1968 getroud. Pieter was ’n predikant by verskeie gemeentes in Gauteng en die egpaar het 11 jaar gelede in Bela-Bela afgetree.

 

Nicky en Denise Prinsloo is op 17 Augustus 1968 in Heidelberg (in die destydse Transvaal) getroud. Hulle het albei by Unisa in Pretoria gewerk. Die egpaar het die afgelope 9 jaar in die Shona Langa-wildreservaat gewoon, maar het in Julie 2020 na die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle verhuis.

 

Fanie en Maureen Fourie is op 23 Desember 1961 in Klerksdorp getroud. Hulle woon die afgelope 15 jaar in Mo-
dimolle.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button