Die Vroue Landbou-unie (VLU) se Sonskyn-aandtak in Bela-Bela het op Vrydag 12 Februarie Huis Talje besoek met ’n groot skenking van 60 pare sokkies wat hulle bymekaar gemaak het om die inwoners teen die komende winterkoue te beskerm. Die vroue het ook 10 pakke doeke aan die bestuur oorhandig. Op die foto is Rebecca Moima (bestuurder by Huis Talje), Loret Rainer (VLU-lid), Maria Oberholzer (VLU-skakelbeampte), Irma Day (VLU-voorsitter), en Marinda White (VLU-sekretaresse) tydens die oorhandiging.
Nico de Villiers van Modimolle het dié lugfoto van die Donkerpoort-dam buite Modimolle op Sondag 14 Februarie met sy hommeltuig geneem. Volgens inligting is die watervlak van die dam slegs een meter onder die oorloopvlak. Vroeër in die seisoen was damvlakke besonder laag.
Hierdie lugfoto van die Eben Cuyler-dam buite Modimolle is op Sondag 14 Februarie deur Nico de Villiers van Modimolle geneem. Op die foto kan duidelik gesien word dat die dam 100% vol is en sy wal oorstroom. Goeie, deurdringende reën val reeds die afgelope drie weke oor groot dele van die Waterberg.
Die Thabazimbi-munisipaliteit het raadslid David Gouveia ingehuldig en verwelkom as proporsionele raadslid vir die DA in Northam. Hy vervang raadslid Grace Ntshabele. Op die foto is Tokkie Swanepoel (DA-streeksraadslid), David Gouveia en Thane Hearne (speaker van die raad).
Die Woolworths-klerewinkel in die Bosveld Mall in Bela-Bela sluit einde Februarie sy deure permanent. Marnus Luüs, sentrumbestuurder, het by navraag aan Die Pos gesê die sluiting is weens die negatiewe uitwerking wat die Covid-19-pandemie op die land se ekonomie het. Ander bekende handelsname soos CNA en Edgars het ook hul deure in Bela-Bela gesluit. “Ons is tans besig met onderhandelings om die winkelruimte aan ’n ander sakeonderneming te verhuur,” het Luüs gesê.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.