James skrik nie vir koue pampoen
Dit is vanjaar die tweede jaar dat James Briel (14) van Mookgophong ’n reusepampoen gekweek het.

James het van jongs af daarvan gehou om ’n groentetuin aan te lê en altyd plek in sy beddings vir sy gunstelingvrug, spanspek, gemaak.
Hy het in 2020 die eerste keer die Atlantic Giant-pampoenvariëteit geplant. Die pitte word van Amerika ingevoer en kos ’n allemintige $10 — ongeveer R150 per pit.
Een van sy vorige pampoene het al die skaal op sowat 80 kg getrek, maar vanjaar het hy alle verwagtinge oortref toe een van sy pampoene 208 kg op die skaal gemeet het.
“Dié variëteit aard die beste in ons omgewing en hou van hitte. Die gunstige klimaat dra by tot die uitermate groot pampoene,” het hy trots aan Die Pos vertel.
Een pampoen benodig tot 50 liter water per dag. Die geheim om ’n groot pampoen te kweek, lê in die kunsmis. Die voeding moet op kritieke stadiums in die groeiproses volgens formules toegedien word.”
James plant die pitte in potte en wanneer hulle goed gevestig is en ’n paar blare het, word dit uitgeplant in ’n gat van 1 m x 1 m wat hy vooraf met kompos gevul het.
Hy sê sandgrond sorg vir goeie dreinering. Hy wou egter nie meer van sy “geheime” deel nie.
Dié jong boer het in September 2020 twee pitte in sy groentetuin op die plaas, Badseloop, waar hulle woon, geplant.
“Die pampoen dra baie klein pampoentjies en jy kies dan een om te vertroetel en die res word afgesny,” het hy soos ’n ervare boer vertel.
Volgens James sou hy baie goed gevaar het in die Goliat van Gat-kompetisie wat jaarliks in Cullinan gehou word, maar weens die Covid-19-pandemie, is dit afgestel.
Sy doelwit is om in 2022 ’n nóg groter pampoen te kweek. Hy het besluit om die pitte te oes en te verkoop.
Die pampoen gaan opgesny en in sy ouers, Kobus en René Briel, se kruidenierswinkel in die dorp verkoop word.
“Ek wil die geld terugploeg in my boerdery. Daar is ’n ander groot pampoen wat ek vir die ouetehuis wil skenk,” het hy met ’n breë glimlag gesê.
James is ’n slimkop wat baie van wiskunde hou. Hy sê nadat hy gestudeer het, sal hy graag voltyds wil boer.
“Die nuutjie om groot pampoene te kweek het nou my vriende ook aangesteek en hulle beplan om my rekord te verbeter.”
Hy sê hy is reg vir die uitdaging en waarsku dit neem baie tyd en “liefde” om dié pampoene te kweek.
“Ek het darem nog so 3 000 mielies om te verkoop,” het hy laggend vertel.
Die pampoen is deur ongeveer 10 mans by die winkel ingedra en sal vir die volgende paar weke daar uitgestal word.