AfriForum laat nie gras onder hul voete groei
Die AfriForum-tak in Mookgophong laat letterlik en figuurlik nie gras onder hul voete groei nie.

Volgens Philip van Staden, voorsitter van die tak, het die pompstasie in die dorp só toegegroei dat dit moeilik was vir amptenare om hul werk daar te verrig.
Taklede het op Woensdag 24 Februarie aan die werk gespring om nie net die pompstasie nie, maar ook die sypaadjies in die dorp, skoon te maak.

Dit het die onversorgde toestand van die dorp aansienlik verbeter. Dit volg nadat verskeie gemeenskapslede gekla het oor die vervalle toestand van die dorp en klagtes dat versoeke daaroor aan die munisipaliteit op dowe ore val.
“Werkers het die reg tot ’n veilige en skoon werkplek, maar die munisipaliteit kweek geen lojaliteit en trots by sy werkers nie. Ons gee met hierdie projek ’n mate van selfrespek aan die werkers terug,” het Lucas Bornman, ondervoorsitter van die AfriForum-Naboomspruit-tak, gesê.
Volgens Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder in Limpopo, is dit ook belangrik om mense betrokke te kry by hierdie projekte.
Nog inwoners het AfriForum se voorbeeld gevolg en ook begin om sypaadjies self skoon te maak.
Jan Duvenhage, wat ’n gastehuis in die dorp besit, het self ingespring en die gras op die sypaadjies rondom sy eiendom gesny. Die gras was só hoog dat dit die sig versper het van motorryers en die moontlikheid van ongelukke ingehou het.
“Kyk net hoe mooi lyk dit in en om Gholf Park — die res van die inwoners kan mos ook so maak. Dankie aan die Gholf Park-komitee en inwoners wat ’n wonderlike voorbeeld stel,” het Van Staden aan Die Pos gesê.
Mense wat by AfriForum se Naboomspruit-tak betrokke wil raak kan ’n SMS met hul naam stuur na tel. 45340. SMS’e kos R1.