Local newsNews

Bloed is ’n geskenk van lewe

Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) in Modimolle organiseer elke laaste Donderdag van die maand ’n bloedskenkdag in samewerking met die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS).

Dit word by die SAVF Marie Bergsmasaal, oftewel die dienssentrum, op die hoek van Pretorius- en Kerkstraat in Modimolle gehou.

Volgens Henriette Els, SAVF-streeksbestuurder van Limpopo, is die SAVF ’n nasionale nie-winsgewende organisasie wat welwillendheidprojekte loods en maatskaplike dienste aan minderbevoorregtes lewer.

Coreen Campher van die plaaslike SAVF-tak in Modimolle het met die mense gesels wat op Donderdag 25 Februarie bloed geskenk het.

“Kittie du Preez (78) is een van ons gereelde skenkers in Modimolle. Sy skenk al bloed vandat sy 18 jaar oud is.”

Volgens Du Preez hoef mense glad nie op te hou bloedskenk as hulle ’n hoë ouderdom bereik nie, solank hul huisdokters hulle fiks en gesond verklaar.

Volgens die SANBS kan ’n mens elke 56 dae een eenheid bloed (480 ml) skenk. Daar is ’n streng proses wat gevolg word om te verseker dat die bloed wat geskenk word, veilig is.

Campher het aan Die Pos gesê die SAVF maak uitsluitlik staat op skenkings en die hulp van vrywilligers om hul maatskaplike dienste te lewer.

“Daar is baie ouetehuise wat tans swaarkry, maar ons kan net ’n bydra lewer wanneer ons skenkings ontvang. Ons doen werklik ’n beroep op mense om ons hande te kom vat om ’n verskil te maak in ander se lewens.”

Die volgende bloedskenkdag word vir Donderdag 25 Maart vanaf 13:00 beplan. Bel gerus vir Campher by tel. nr. 078 1166 308 vir meer inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button